Die kloue van ontwrigtende weerstoestande is wêreldwyd besig om die natuur stelselmatig uit te mergel. In dele van Europa droog bekende riviere op weens die warmste temperature in menseheugenis vir Junie en Julie. In Engeland en Wallis knou droogtetoestande die landbou, terwyl vernietigende bosbrande dorpe en stede in onder meer Amerika en Kanada teister.

Plaaslik, in die Weskus, bly noodsaaklike opvolgreën weg terwyl koringlande en ander landbouaanplantings begin kwyn. Die gewilde blommeseisoen word ook geraak. Vroeër vandeesmaand het die organiseerders van die jaarlikse veldblomskou in Clanwilliam besluit om dié uitstalvenster vir die gebied se fynbos en blommeprag te kanselleer.

Volgens Tanja Coetzee, die voorsitter van die skou, was dit ‘n moeilike besluit. Sy sê die blomme was vanjaar weens die oorstromings in Mei baie vroeg.

“Daar was ongelukkig nie opvolgreën nie en dit is tans baie droog. Die groot brande verlede jaar het ook ‘n invloed gehad.”

Coetzee sê die organiseerders handhaaf ‘n hoë standaard. “Aangesien die blomme se gehalte baie swak is en sekere spesies klaar geblom het, het ons die moeilike besluit geneem om die skou te kanselleer. Ons het omtrent geen reën in Junie en Julie gehad nie. Die plate blomme wat gewoonlik in volle kleur staan, is baie af.”

Proteas en ander fynbos is egter steeds te sien. “Ons het reeds baie toeriste in die dorp en moedig mense aan om steeds te kom.”

Die skou, wat die eerste keer in 1964 gehou is, is ook in 2017 weens droogtetoestande gekanselleer. “Ons glo en vertrou egter dat ons volgende jaar weer ‘n skou sal kan bou en het reeds met beplanning daarvoor begin,” sê Coetzee.

Boere is intussen bekommerd oor die gebrek aan broodnodige opvolgreën vir kwynende gesaaides. Volgens SP Tredouw, Agri Wes-Kaap se streekbestuur­der in die Weskus, was die reën vir Junie, Julie en Augustus tot dusver nie naastenby genoeg vir koringaanplantings om te oorleef nie.

“Hier in die Sandveld het ons net sowat 15 mm gehad; ander plekke tussen 18 en 20. Die koringprys is ook steeds ‘n uitdaging. Graanboere in die Weskus produseer tans teen ‘n verlies. Dit maak nie sin om enigsins meer koring aan te plant nie.”

Rooibos word deesdae in die Swartland geplant.
Rooibos word deesdae in die Swartland geplant. Foto’s: SP Tredoux

Agri Wes-Kaap se syfers toon dat slegs sowat 3 mm reën in Julie in die Swartland gemeet is, teenoor 62 mm verlede jaar. In dele van die Bergrivier, Koperfontein, Moravia, Moorreesburg, Koringberg en Leliedam het Julie se reënval tussen 2 mm en 4 mm gewissel, teenoor historiese gemiddeldes van 48 mm tot 75 mm.

“Die seisoene is gewis deurmekaar en reënval en temperature is tans nie normaal nie,” sê Tredouw. “Vrugtebome het ‘n maand te vroeg geblom. Reën kán nog ‘n verskil maak, maar vir die graan­bedryf is dit tans die belangrikste tyd vir vog.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens het dele van die Wes-Kaap vanjaar die droogste Julie op rekord beleef. ‘n Sterk blokkerende Atlantiese hoogdrukstelsel het kouefrontstelsels verder suid gedryf, met slegs drie swak kouefronte wat gedurende Julie oor die suidwestelike dele van die Kaap beweeg het.

Vredenburg het in Julie slegs sowat 4 mm reën gekry, teenoor ‘n historiese gemiddeld van byna 50 mm. Kaapstad Internasionale Lughawe het met 14,4 mm sy laagste Julie-reënval sedert 1958 aangeteken.

Met El Niño wat na verwagting verder versterk, kan ‘n warmer somer as gewoonlik voorlê.

“Dit is hartverskeurend hier buite, maar ons moet positief bly. Ek is bitter bekommerd vir elke landbouer in die streek. Werkers gaan ook uiteindelik daaronder ly,” sê Tredouw.

• Die Hopefield-fynbosskou gaan egter steeds van 27-30 Augustus by die sportterrein in die dorp voort.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 20 August 2026
    Weslander E-Edition – 20 August 2026

Gift this article