“Die graanbedryf beleef tans ‘n krisis.”
Dít is die mening van SP Tredouw, die streeksbestuurder van Agri Wes-Kaap in die Weskus.
Volgens Tredouw is hy nie net bekommerd oor die natuur nie, maar ook oor die vele ander uitdagings wat plaaslike graanboere ervaar.
Hoewel vroeë reën in April vanjaar gunstige planttoestande geskep het, wag saaiboere in die Weskus nou angstig op goeie en broodnodige opvolgneerslae.
“Mistoestande dié tyd van die jaar beteken minder reën en droër weerstoestande. As saaiboere nie binne die volgende week of twee reën kry nie, is daar groot moeilikheid. Die ondergrondse vog is vinnig besig om weg te raak. Die winter is tans baie vreemd. Ons kry nie die koue wat ons graan laat stoel nie. Die weer voel soms amper soos herfs. Ek is bekommerd,” sê Tredouw.
Volgens Tredouw beleef landbou ‘n uitdagende tydperk, veral wat graan-boere betref. “Die Suid-Afrikaanse graan- bedryf beleef ‘n krisis. Boere ding mee met ‘n meulenaarsmark wat landbou tans doodmaak. Meulenaars het vrye teuels en daar is niks wat graanboere beskerm nie. Veral graaninvoere en koste-uitdagings knou plaaslike boere. Ons saaiboere sit nog met oeste van verlede seisoen.”
Tredouw sê die voordele van onlangse prysstygings op brood kom nie by boere uit nie. “Meulenaars sal boere moet begin bystaan en help met veral vervoerkostes en prysbepalings. Meulenaars maak silo’s vol met invoergraan nog voordat plaaslike boere begin oes. Ons het geen beheer oor invoere nie. Boere is besig om bankrot te speel. Dit is wat hier aangaan. Ek sien nie lig in die tonnel nie. Die regering sal moet ingryp.”
◘ Ligte reënbuie word vir vroeg volgende week in dele van die Weskus voorspel.





