Loaves of Love is die afgelope Saterdag (6 Junie) tydens ‘n inspirerende byeenkoms amptelik as gemeenskapsprojek van stapel gestuur, waar jong leiers, gemeenskapslede en ondersteuners saamgekom het om ‘n verskil in die lewe van kinders en gesinne in Green Village en Chemfos te maak.
Die projek word deur drie toegewyde vroue uit die gemeenskap bestuur, wat ‘n sterk passie het om kinders en gesinne te ondersteun en op te hef.

‘n Groot hoogtepunt van die bekendstelling was die betrokkenheid van Mariette Vorster, ‘n semi-finalis van die Mev. Suid-Afrika 2026-kompetisie, wat as ambassadeur optree. Sy deel die visie van Loaves of Love om hoop, liefde en ondersteuning vir kwesbare kinders.
Benewens haar rol as ambassadeur het Mariette ook ‘n besondere bydrae gelewer deur ‘n skenking aan Ruben Julies, afrigter van die Langebaan-atletiekklub.
Livia van As van Loaves of Love meen die bekendstelling is maar net die begin. “Dit is die begin van ‘n beweging waar jongmense verantwoordelikheid neem, hoop saai en hul gemeenskap positief beïnvloed,” sê sy.
Met die ondersteuning van die gemeenskap, toegewyde mentors, ambassadeurs en jong leiers sien Loaves of Love daarna uit om ‘n blywende verskil in die lewe van kinders en gesinne in Green Village en Chemfos te maak.
“Wanneer ons saam brood deel, deel ons nie net kos nie – ons deel hoop, liefde en ‘n beter toekoms,” voeg sy by.




