Fredalaine Harmse (bemarker van Huis van Heerde), Karen Petersen (bestuurder by bemarking en finansiering by Huis van Heerde) en Maliaan Ellmann (finansies by Huis van Heerde).

Spogaand weer ‘n groot sukses

Fredalaine Harmse (bemarker van Huis van Heerde), Karen Petersen (bestuurder by bemarking en finansiering by Huis van Heerde) en Maliaan Ellmann (finansies by Huis van Heerde).

Die Huis van Heerde-kinderhuis in Moorreesburg se derde spogaand was onlangs ‘n hoogtepunt op die plaaslike sosiale kalender en het bewys wat moontlik is wanneer ‘n gemeenskap vir ‘n groter doel saamstaan.

Die geleentheid is by die unieke en pragtige venue, Die Stoor, aangebied, wat die ideale atmosfeer vir ‘n aand van samesyn, vermaak en betekenisvolle ondersteuning geskep het.

Een van die betekenisvolste oomblikke was die geleentheid om terug te kyk op Huis van Heerde se groei en ontwikkeling oor die afgelope paar jaar.

Gaste is ingelig oor die vordering wat sedert 2020 gemaak is, asook al die projekte en verbeterings wat deur die ondersteuning van die gemeenskap, skenkers en vennote moontlik gemaak is.

Die merkwaardige prestasies van die kinders in Huis van Heerde se sorg is met groot trots gedeel – ‘n inspirerende herinnering aan wat bereik kan word wanneer kinders die liefde, steun en geleenthede wat hulle verdien, ontvang.

Die aand is verder verryk deur ‘n inspirerende boodskap van die gasspreker, minister Anton Bredell, wat die belang-rikheid van gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking beklemtoon het.

Wynand en Chereé het die vermaak opgedis en hul optredes het tot die feestelike atmosfeer bygedra en groot waarde­ring van die gehoor ontvang.

Die gaste het ook heerlik aan die uitstekende disse wat deur Wilinda Hanekom voorberei is, gesmul.

Een van die hoogtepunte van die aand was die veiling, wat buitengewone ondersteuning geniet het. Danksy die vrygewigheid van gaste, skenkers en ondersteuners is ongeveer R120 000 ten bate van Huis van Heerde ingesamel.

Volgens Fredalaine Harmse, die bemarker van Huis van Heerde, sou die sukses van die aand nie moontlik gewees het sonder die betrokkenheid en oop harte van die gemeenskap nie.

“Ons wil opreg dankie sê aan elke gas wat die aand bygewoon het, elke ­skenker wat bygedra het en elkeen wat op enige manier deel van hierdie geleentheid was. Jul ondersteuning maak ‘n werklike verskil in die lewe van ons kinders en stel ons in staat om voort te bou aan ‘n veilige en hoopvolle toekoms vir elkeen van hulle,” het sy gesê.

“Huis van Heerde spreek sy opregte dank en waardering uit teenoor almal wat bygedra het om die aand so ‘n groot sukses te maak. Die organisasie sien daarna uit om saam met die gemeenskap aan ‘n beter toekoms vir die kinders in ons sorg voort te bou.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article