Tuisskool bied ‘n uitweg vir ouers met neuro-diverse kinders, maar dit is nooit ‘n enkelvoudige uitweg nie. Foto: Annie Spratt | Unsplash

MENING | Waarom ouers alternatiewe soek

Tuisskool bied ‘n uitweg vir ouers met neuro-diverse kinders, maar dit is nooit ‘n enkelvoudige uitweg nie. Foto: Annie Spratt | Unsplash

“Ouers begin anders dink oor hoe kinders leer,” meen dr. Helena Heydenreich van Vredenburg, ‘n spesialis in onderwyswelstand en opvoedkundige leierskap.

“Daar is wêreldwyd ‘n duidelike verskuiwing in hoe ouers na onderwys en leerondersteuning kyk,” verduidelik Heydenreich.

“Vir baie jare was die tradisionele skoolstelsel die vanselfsprekende keuse vir die meeste gesinne, maar ouers begin nou meer vrae vra oor hoe hul kinders die beste ondersteun kan word.”

Sy beklemtoon dat hierdie verskuiwing nie beteken dat hoofstroomonderwys misluk het nie.

“Daar is ongelooflik toegewyde onderwysers wat elke dag onder groot druk werk om kinders te help. Maar baie ouers ervaar dat individuele kinders se behoeftes nie maklik binne groter skoolomgewings aangedurf en hanteer kan word nie.”

Volgens Heydenreich meld ouers toenemend uitdagings aan, soos oorvol klasse, uiteenlopende leerbehoeftes en akademiese druk.

“Sommige kinders benodig meer individuele aandag, terwyl ander beter funksioneer in kleiner of rustiger leeromgewings.”

Sy sê die groei van tuisonderrig het ook nuwe gesprekke oor onderwys oopgemaak.

“Waar tuisonderrig vroeër as iets buitengewoon beskou is, ondersoek baie gesinne dit vandag as een van verskeie moontlike opsies.

“Dit beteken nie noodwendig dat elke gesin tuisonderrig moet oorweeg nie, maar eerder dat ouers besef kinders leer verskillend.”

Nog ‘n belangrike tendens is volgens haar die toenemende behoefte aan leerondersteuning, wat verder gaan as gewone huiswerkhulp.

“Ouers soek ondersteuning met lees­ontwikkeling, studievaardighede, taalbegrip, kritiese denke en onafhanklike leergewoontes. Die gesprek gaan nie meer net oor waar kinders leer nie, maar ook oor hoe hulle leer.”

Heydenreich sê navorsing wys toe­nemend dat suksesvolle leer nie net oor inhoudskennis gaan nie.

“Vaardighede soos selfbestuur, pro­bleemoplossing, begrip en die vermoë om nuwe kennis toe te pas, raak al belang­riker in ‘n wêreld wat voortdurend verander.”

Volgens haar bied hierdie gesprek ook gemeenskappe soos die Weskus ‘n geleent­heid om kreatief oor ondersteu­ning vir kinders te dink.

“Dit gaan nie oor die vervanging van skole nie. Dit gaan oor die uitbreiding van ondersteuningsmoontlikhede vir gesinne wat dalk iets anders benodig.”

Sy glo die uiteindelike doel bly dieselfde. “Ons wil hê elke kind moet die beste moontlike kans hê om akademies, emosioneel en persoonlik te floreer.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 11 June 2026
    Weslander E-Edition – 11 June 2026

Gift this article