Ronnie Grace by sy oorlede vrou June.

Onthou die mens, nie die siekte


September is Wêreld Alzheimersmaand, ’n tyd waarin aandag gevestig word op Alzheimer se siekte en ander vorme van demensie.

Vir diegene wat daagliks met die siekte saamleef, is dit egter veel meer as ’n onderwerp waaroor daar een maand per jaar gepraat word. Dit verander mense se lewens en plaas groot druk op families, versorgers en diegene wat na mense met demensie omsien.

By Huis Wittekruin is dit ’n toenemende uitdaging. Charmaine Bezuidenhoudt, verpleegster in die Alzheimer eenheid, sê versorging behels veel meer as die bevrediging van inwoners se fisiese behoeftes.

“Dit verg geduld, begrip, deernis en ’n individuele benadering tot elke inwoner.”

Van die eerste tekens wat personeel kan opmerk, is toenemende vergeetagtigheid, veral wanneer dit by onlangse gesprekke, afsprake of bekende roetines kom. Inwoners kan ook verward raak oor tyd of plek, sukkel om die regte woorde te vind, belangstelling verloor in aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het, of veranderinge in bui en gedrag toon.

Vroeë herkenning is belangrik omdat dit die gesin en gesondheidsorgspan die geleentheid gee om die veranderinge te evalueer en betyds vir die persoon se veiligheid en toekomstige sorg te beplan.

Vir personeel beteken die siekte dat hul benadering daagliks aangepas moet word. Hulle moet verstaan wat ’n inwoner se ontsteltenis veroorsaak, op ’n manier kommunikeer wat die persoon verstaan en terselfdertyd ’n veilige omgewing skep.

Bezuidenhoudt sê een van die grootste wanopvattings is dat mense met Alzheimer se siekte of demensie nie meer kan verstaan, voel of die lewe geniet nie.

“Demensie mag dalk ’n persoon se geheue en vermoëns verander, maar dit neem nie hul emosies, persoonlikheid of behoefte aan liefde en verbondenheid weg nie.”

Sy beklemtoon dat die mens agter die siekte raakgesien moet word. Elke inwoner het steeds ’n lewensverhaal, persoonlikheid, voorkeure en waardigheid.

Elma Vertue van Helpende Hand Saldanhabaai en stigter van GreyMatters fokus op wat mense kan doen om hul brein en liggaam so aktief as moontlik te hou.

Sy waarsku dat dit te sterk is om te beweer dat breinoefeninge Alzheimer se siekte kan voorkom. Dit is volgens haar meer akkuraat om te sê dat dit die risiko van kognitiewe agteruitgang kan verlaag en breinfunksionering kan ondersteun.

Volgens Vertue kan eenvoudige bewegings wat die sintuie, brein en spiere stimuleer, tot ’n beter lewensgehalte bydra. Breinoefeninge kan bestaande senuweebane versterk en nuwe senuweebane vorm.

Die MindMoves program, wat deur dr. Melodie de Jager van die Mind Moves Instituut ontwikkel is, word deur Solidariteit Helpende Hand onder lisensie aangebied.

Vertue moedig seniors aan om elke dag te beweeg, nuwe dinge te leer, te lees, musiek te luister, te sing, sosiaal betrokke te bly en breinspeletjies soos kaartspel en blokkiesraaisels te speel.

Sy beklemtoon ook die waarde van ’n daaglikse stap van minstens 20 minute buite.

“’n Brein wat elke dag iets nuuts leer, is ’n brein wat by verandering kan aanpas.”

Die Seniors in Aksie program van Helpende Hand bied onder meer die Kuier, Klets en Kielie die spiere program aan. Die doel is om seniors met kennis en aktiwiteite te bemagtig, lewenskwaliteit te verbeter, angstigheid te beheer en eensaamheid teen te werk.

Vertue se boodskap tydens Wêreld Alzheimersmaand is dat seniors verantwoordelikheid vir hul eie welstand moet neem en elke dag moet laat tel.

Vir Ronnie Grace het Alzheimer se siekte ’n persoonlike werklikheid geword toe sy vrou, June, in 2011 op 70 jarige ouderdom met vroeë tekens van demensie gediagnoseer is.

Vir hom was die diagnose aanvanklik ’n groot skok. Tog het hy aan ’n belofte vasgehou wat hy in 1965 op hul troudag gemaak het.

Hy het belowe om sy vrou deur alles by te staan en hy het.

June se eerste probleme was klein, alledaagse dinge. Sy het vergeet hoe om die wasmasjien af te sit of hoe om die stoof aan te skakel wanneer sy kos wou maak. Oor die volgende vyf jaar het haar toestand egter versleg en sy het toenemend aggressief geword.

“Ek was nooit kwaad of ongeduldig met haar nie, want ek het geweet dit is die siekte wat haar so maak.”

Selfs ’n eenvoudige inkopietog het ’n nagmerrie geword. June kon ure lank op en af deur die winkel se rye loop sonder om iets in die trollie te sit. By die huis het sy vergeet waar items gebêre moes word. Ronnie het selfs eetgerei in die yskas gevind.

Die siekte het ook hul verhouding op onvoorspelbare maniere beïnvloed.

“Daar was aande voor ons gaan slaap het, wat sy my vertel het hoe lief sy vir my is en dan was daar ander aande waar sy aggressief geraak het en my geskel het.”

Kort ná June se 80ste verjaardag kon sy nie meer haar ouderdom, die dag of die maand onthou nie. Haar spesialis het Ronnie meegedeel dat sy spesiale sorg in ’n demensie eenheid nodig het.

June is daarna by Gerimed se demensie eenheid opgeneem, maar Ronnie het haar nie vergeet nie en haar elkde dag besoek.

“Ek het elke dag vir haar gaan kuier en elke keer het sy alles in haar hangkas op ’n hoop gesit want sy het geglo ek kom haal haar om huis toe te gaan.”

Daar was steeds moeilike oomblikke. June het soms al die eetgerei van die toonbank afgegooi. By ander geleenthede het Ronnie haar op haar bed gevind waar sy na die spieëlkas staar en glo dat sy televisie kyk.

Hy het haar gereeld uitgevat om te gaan stap, selfs toe sy hom al hoe minder onthou het.

Op 21 Maart 2024 het Ronnie soos gewoonlik vir June gaan kuier. Hy het haar uitgevat, saam met haar gesit en haar gevoer.

Die volgende oggend om 06:00 het Gerimed hom gebel met die nuus dat June oorlede is. Sy het rustig in haar slaap gesterf.

Ronnie het in 2024 sy ervaring in ’n boek, Living with a Loved One with Dementia, opgeteken en dit aan June opgedra.

Sy verhaal is ’n herinnering dat Alzheimer se siekte ’n mens se herinneringe en vermoëns kan wegneem, maar nie die behoefte aan liefde, waardigheid en menslike verbondenheid nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 17 September 2026
    Weslander E-Edition – 17 September 2026

Gift this article