Wyle Sucilla van Tura
Wyle Sucilla van Tura

Sucilla van Tura onthou vir haar diens aan gemeenskap


VREDENBURG – Sucilla van Tura (65), wat as raadslid bekend was vir haar betrokkenheid by die gemeenskap en haar sterk sin vir regverdigheid, is verlede Vrydag (2 Oktober) ná ‘n lang siekte oorlede.

Vir Van Tura se familie was sy veel meer as ‘n raadslid. Agter die titel was sy ‘n geliefde moeder, suster, vriendin en gemeenskapsmens wat opreg vir die mense om haar omgegee het.

Haar familie beskryf haar as ‘n vrou met ‘n sterk persoonlikheid, ‘n sagte hart en ‘n vaste oortuiging dat elke mens se stem gehoor moet word.

Volgens die familie is Van Tura se betrokkenheid by die gemeenskap deur haar liefde vir mense en sterk sin vir regverdigheid gedryf.

“Kwessies soos dwelmmisbruik, werkloosheid, armoede en ‘n gebrek aan geleenthede vir jongmense en gesinne was vir haar belangrik. Sy het geglo ‘n mens moet nie net oor probleme praat nie, maar ook probeer om ‘n verskil te maak,” sê die familie.

Vernon Vraagom, ‘n bekende musikant en politikus wat ‘n tyd lank saam met Van Tura in die raad gedien het, sê hy het die voorreg gehad om haar as kollega en as vriend te ken.

“Sy het ons gemeenskappe op ‘n baie hoë standaard gedien. Haar kennis oor plaaslike regering was breed en van waarde vir ons mense,” sê Vraagom.

Volgens hom het Van Tura haar rol as raadslid gebruik om die hele gemeenskap te dien en nie net lede van haar politieke party nie.

“Sy gaan beslis gemis word as mens, as kollega en as vriend.”

‘n Ma se liefde

Van Tura se kinders onthou haar as ‘n ma wat alles vir hulle sou doen. Haar liefde was volgens hulle hul veilige plek en haar woorde hul krag.

“Al is sy nie meer hier by ons nie, dra ons haar in ons hart. Ons is dankbaar vir alles wat Mammie vir ons geleer het en vir die liefde wat Mammie in ons geplant het. Ons sal Mammie nooit vergeet nie. Mammie, ons is lief vir jou vandag, môre en altyd.”

Die familie sê hulle het sedert haar dood talle boodskappe ontvang van mense wat vertel het van die verskil wat Van Tura in hul lewe gemaak het.

Haar nalatenskap lê volgens hulle in haar werk as raads- lid en in die mense wat sy aangemoedig, bygestaan en laat voel het dat hulle ‘n stem het. “Ons gaan haar oneindig baie mis.”

LEES OOK: Oud-Transnet-werkers kry titelaktes

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 15 October 2026
    Weslander E-Edition – 15 October 2026

Gift this article