Suzie Cloete

Administratiewe assistent by Badisa tree af ná 36 jaar


Suzie Cloete, Badisa Weskus se administratiewe assistent, tree ná 36 jaar af.

As sy terugkyk na haar jare by ­Badisa Weskus, meen Cloete een van haar mooi­ste herinneringe is die mense wat sy deur die jare ontmoet het. “Ek sal altyd die spesiale bande, ondersteuning en samewerking met my kollegas onthou.

“Ons het natuurlik uitdagende tye beleef, maar ook baie lag, mooi oomblik­ke en herinneringe, wat ek vir altyd sal koester. Om deel te wees van ‘n span wat elke dag probeer het om ‘n verskil in mense se lewe te maak, was vir my baie spesiaal,” vertel Cloete.

Vir Cloete het die mense van Badisa en die gemeenskap ‘n groot deel van haar lewe geword – ‘n tweede huis waar sy kon lag, huil en mooi oomblikke ervaar. “Die gemeenskap het my geleer elke mens se storie is belangrik en selfs ‘n klein bietjie omgee kan ‘n groot verskil maak.

“Dit was vir my ‘n voorreg om op my eie manier deel te wees van ‘n diens wat mense ondersteun en hoop gee. Met my aftrede besef ek hoe bevoorreg ek was om 36 jaar lank deel van Badisa en die gemeenskap te kan wees.

“Ek stap weg met ‘n hart vol dankbaarheid, liefde en kosbare herinneringe. Ek laat my werk agter, maar ek sal nooit die mense agterlaat nie – hulle sal altyd deel van my storie wees.”

Vir Badisa Weskus was Cloete soveel meer as net ‘n administratiewe assistent.

Sy was ‘n steunpilaar, hul staatmaker, raadgewer, aanmoediger en sommer ook hul “kantoor-ma”.

Volgens Elsabé Bester, die bestuurder van Badisa Weskus, is Cloete iemand wie se werk haar trots is en wat altyd seker gemaak het alles is deeglik gedoen en alles was onberispelik.

Sy beskryf Cloete as die “gom wat alles aanmekaar hou” – die stabiliseerder en ‘n rotsvaste, onwankelbare en lojale teenwoordigheid binne Badisa Weskus.

“Dit is haar innerlike vreugde wat uitstaan. Sy bring ‘n gemoedelikheid, diepe vrede en rustigheid saam met haar. Haar omgee vir jou as mens is opreg en besonders.

“En sy maak die lekkerste tee!”

Cloete se kennis van Badisa Weskus en sy mense is volgens Bester breed en diep. “Dit is hierdie kombinasie van professionaliteit, lojaliteit, wysheid en opregte omgee wat haar so ‘n waardevolle deel van die organisasie maak.”

Met haar aftrede sien Cloete daarna uit om meer tyd saam met haar familie deur te bring, rustig te wees, lekker te kuier en die klein oomblikke te geniet.

“Maar die belangrikste is dat ek aftree met ‘n dankbare hart. Ek weet ek laat ‘n groot deel van my lewe agter, maar ek neem 36 jaar se herinneringe, vriendskappe en mooi oomblikke saam.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 1 October 2026
    Weslander E-Edition – 1 October 2026

Gift this article