VELDDRIF – Ná 43 jaar se diens aan die Velddrif-gemeenskap sal Weskus Hardeware aan die einde van volgende maand, op Saterdag 31 Oktober, sy deure sluit.
Rozelle Mouton, die eienaar, het dié aankondiging gemaak. Dié bekende winkel in Voortrekkerweg is sedert 1996 deur Mouton bestuur.
Die sluiting is vir haar die einde van ‘n era en beteken ook die afsluiting van ‘n hoofstuk wat ‘n groot deel van haar lewe uitgemaak het.
Weskus Hardeware het in 1983 sy deure geopen en oor die daaropvolgende vier dekades deel van die plaaslike gemeenskap geword.
Mouton beskryf die aankondiging as een wat met ‘n “dankbare, maar swaar hart” gemaak word.
Deur die jare het talle inwoners as klante by die winkel ingestap, maar as vriende uitgestap. Volgens Mouton het baie van hulle mettertyd deel van die Wes- kus Hardeware-familie geword en, in baie opsigte, ook deel van haar eie familie.
“Baie dankie vir elke aankoop, elke besoek, elke geselsie en elke kosbare herinnering wat ons deur die jare gedeel het,” skryf sy in ‘n kennisgewing. “Sonder julle sou hierdie besondere reis nie moontlik gewees het nie.”
Vir Mouton is dit ook die einde van die enigste werkslewe wat sy geken het sedert sy ‘n jong mei- sie was. Hoewel dit emosioneel is om afskeid te neem, sê sy die tyd het aangebreek om dié hoofstuk af te sluit en ‘n nuwe seisoen in haar lewe te begin. Sy sê sy sal die vriendskappe en verhoudings wat oor soveel jare ontstaan het altyd koester.
“Dankie dat julle hierdie pad saam met my gestap en Weskus Hardeware deur al die jare so getrou ondersteun het,” skryf sy.
Op 31 Oktober kom dié lang reis tot ‘n einde, en die gemeenskap moet afskeid neem van ‘n bekende naam wat vir 43 jaar deel van Velddrif se daaglikse lewe was.





