West Coast Abalone by Cape St. Martin sluit op 31 Julie ná 28 jaar. Foto: Danie Hefers
West Coast Abalone by Cape St. Martin sluit op 31 Julie ná 28 jaar. Foto: Danie Hefers

Nóg ‘n Weskus-perlemoenplaas sluit sy deure


ST HELENABAAI – Ná meer as ‘n kwarteeu in die bedryf, gaan die bekende West Coast Abalone-perlemoenplaas (WCA) by Cape St. Martin binnekort sy deure sluit.

Dié gevestigde perlemoenplaas is in 1998 deur Jens Heimberg, Karen Whyte en Dennis Whyte begin.

Die aanleg het die Haliotis midae-perlemoen, wat net in Suid-Afrika voorkom, gekweek. Die aanleg het werk aan 11 tot 50 werknemers verskaf.

West Coast Abalone by Cape St. Martin. Foto: Danie Hefers
West Coast Abalone by Cape St. Martin. Foto: Danie Hefers

Volgens Dennis Whyte van West Coast Abalone (WCA) was dit ‘n “moeilike besluit” om die perlemoenplaas te sluit. “Ná noukeurige oorweging het WCA besluit om sy boerderybedrywighede op 31 Julie te staak. Die besluit volg op ‘n tydperk van volgehoue markuitdagings, prysdruk en stygende uitgawes wat bedrywighede onmoontlik gemaak het.”

Whyte het sy waardering uitgespreek teenoor die perlemoenplaas se personeel, plaaslike kliënte en verskaffers vir hulle ondersteuning sedert die onderneming in 1998 begin is. “Ons bedank almal wat deel was van dié reis.”

Een van die Weskus se oudste perlemoenplase, Jacobsbaai Sea Products in Jacobsbaai naby Saldanha, het sý bedrywighede einde verlede jaar gestaak. Dié sluiting het meer as 50 werkers geraak.

Die sluiting van die Jacobsbaai-perlemoenplaas is destyds deur die Perlemoen-boerevereniging van Suid-Afrika (AFASA) betreur. Volgens AFASA het die bedryf tóé verskeie uitdagings ervaar, soos onder meer ‘n afname in aanvraag van lande soos China.

Die land se perlemoenbedryf verskaf werk aan honderde mense en het jaarliks ‘n omset van miljoene rande.

Van die damme by West Coast Abalone by Cape St. Martin. Foto: Danie Hefers
Van die damme by West Coast Abalone by Cape St. Martin. Foto: Danie Hefers

AFASA het by monde van Johan Heckroodt, die vereniging se hoof-uitvoerende beampte, die beoogde sluiting van die perlemoenplaas by Cape St. Martin bevestig. Heckroodt sê dit is hartseer dat WCA hulle deure ná 28 jaar gaan sluit. “Die Weskus is ongelukkig ‘n marginale gebied vir perlemoenboerdery weens hoër risiko’s vir bio-toksienes.

“Plase word tydelik  toegemaak as limiete oorskry word en dan verloor die plasemark aandeel en moet dan pryse verdiskonteer om weer terug te kom in die mark. Omrede daar huidiglik ‘n oorskot is, beteken dit dat die oorblywende plase beter kan doen weens die verminderde aanbod van perlemoen.”

Volgens Heckroodt is daar tans nie nóg plase wat beplan om toe te maak nie. AFASA het sewe lede.
“Die bedryf bly egter onder druk weens swak pryse in die Verre Ooste en ‘n swak Chinese ekonomie.
Die grootste uitdaging bly onwettige handel wat swak kwaliteit in die mark sit en pryse só onder druk plaas en die premium status van die spesie benadeel.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 2 July 2026
    Weslander E-Edition – 2 June 2026

Gift this article