Een van die Wes-Kaap se oudste perlemoenplase gaan sy bedrywighede binnekort staak.

Dié skokaankondiging raak sowat 60 werkers van die bekende Jacobsbaai-perlemoenplaas in dié Weskusdorp.
Die plaas is in 1992 begin en het aanvanklik eers met forel en vis geboer, voordat dit in 1995 met voltydse perlemoenproduksie begin het.
Die plaas het jaarliks tonne perlemoen hoofsaaklik vir die uitvoermark na lande soos Hong Kong, Taiwan en China gekweek.
Die plaas, wat as Jacobsbaai Sea Products sake doen, is ‘n slagoffer van kwynende markaanvraag, dalende dollarpryse en stygende elektrisiteits- en arbeidskostes.

Volgens Jonathan Venter, die perlemoenplaas se hoofbestuurder, het al dié uitdagings daartoe gelei dat die plaas nie meer ekonomies lewensvatbaar of volhoubaar is nie.
“Die besluit om die perlemoenplaas toe te maak, was baie moeilik”, sê Venter.
Volgens hom sal die Jacobsbaai-perlemoenplaas sy deure voor die einde van die jaar finaal sluit.
Weslander het by die Perlemoen-boerevereniging van Suid-Afrika (Afasa) gaan kers opsteek oor die stand van die bedryf.
Afasa sê hy betreur, die sluiting van die Jacobsbaai-perlemoenplaas; veral omdat dit een van die eerstes was.
Volgens Johan Heckroodt, die vereniging se hoof, gaan die bedryf tans deur ‘n baie moeilike tydperk weens die swak Chinese ekonomie en ook die toename in gebruik van Chinese perlemoen, wat verbeter het. “Die Weskus het sy eie unieke uitdagings met die watersamestelling en toksienes wat met rooigety gepaardgaan en perlemoenboerdery teen lae pryse marginaal maak”, sê Heckroodt.
Volgens hom word grootskaals kostes gesny en daar is nie tans planne vir verdere sluitings nie. “Die plaaslike perlemoenbedryf het ‘n omset van sowat R1 miljard en verskaf werk aan 2 500 mense.”
Die beoogde sluiting van die Jacobsbaai-perlemoenplaas was ‘n verrassing en skok vir sommige voormalige werkers.
Wayne Brown (51) het in die 1990’s, ná matriek, by die plaas gaan werk. Hy is tans die vuurtoringwagter by die Kaap Columbine-vuurtoring buite Paternoster en het aangename herinneringe van sy tyd by die perlemoenplaas.
“Dit is hartseer nuus. Jacobsbaai sal nie dieselfde wees sonder die perlemoenplaas nie.”
Nóg ‘n voormalige werker by die plaas, Gabby Arendse, het die beoogde sluiting as slegte nuus beskryf.

Sy het nege jaar lank by die plaas gewerk en het haar kommer uitgespreek oor die sowat 60 werkers wat deur die sluiting van die Jacobsbaai-perlemoenplaas geraak gaan word.






You must be logged in to post a comment.