Erfenisdag is vir baie Suid-Afrikaners meer as net ‘n dag op die kalender, maar ‘n geleentheid om identiteit, taal, kultuur en herkoms te vier.

Weskussers het hul insette gelewer oor wat Erfenisdag vir hulle beteken.

Vir Nzondie Madlamini Ngalwana, ‘n isiXhosa-vrou wat in die Oos-Kaap grootgeword het en nou in die Weskus woon en werk, is Erfenisdag ‘n herinnering om trots te wees op waar sy vandaan kom. Sy sê haar taal en kultuur is ‘n belangrike deel van haar identiteit.

“Ek wil hê mense moet weet dat ek Xhosa is en ek is trots daarop,” sê sy.

Volgens haar dra isiXhosa die geskiedenis, wysheid en identiteit van haar mense. Sy glo Suid-Afrikaners kan baie by mekaar leer deur mekaar se tale, tradisies en leefwyses te respekteer.

Nzondie Madlamini Ngalwana.
Nzondie Madlamini Ngalwana.

Elton Lesch van Saldanha beklemtoon weer die belangrikheid van Erfenisdag vir die bewaring van identiteit. As ‘n afstammeling van die Khoi-Khoi, beskryf hy dit as ‘n geleentheid om op ‘n mens se herkoms, kultuur, taal en dialek te fokus.

“Ek is besonders trots daarop om van die inheemse Khoi-Kho te wees.”

Lesch beskryf dit as die land se eerste nasie.

Elton Lesch.
Elton Lesch.

Vir Alecia van Zyl is Erfenisdag ‘n geleentheid om trots te wees op haar identiteit, herkoms en die waardes waarmee sy grootgeword het.

Sy sê Suid-Afrika se verskeidenheid is juis wat die land besonder maak. Sy is veral trots op haar taal en Afrikaanse geregte soos melktert en koeksisters.

Van Zyl glo Suid-Afrikaners moet leer om mekaar se verskille te respekteer en te waardeer, eerder as om dit as vreemd te beskou.

“Ons kan soveel by mekaar leer deur ons tale, kos, tradisies en stories te deel,” sê sy.

Die drie se perspektiewe beklemtoon die belangrikheid van respek, identiteit en kulturele trots, terwyl Suid-Afrikaners se verskillende erfenisse ook as ‘n geleentheid tot groter begrip en eenheid gevier word.

Alecia van Zyl.
Alecia van Zyl.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition -24 September 2026
    Weslander E-Edition -24 September 2026

Gift this article