Elton Lesch met sy toekenning.
Elton Lesch met sy toekenning.

Weskusser vereer vir lewenslange erfeniswerk


SALDANHA – Vir sy passie vir die bewaring van die Weskus se geskiedenis, kultuur en erfenis is Elton Lesch vanjaar met ’n kultuurtoekenning beloon.

Die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DCAS) die jaarlikse Kultuurtoekennings by die Artscape-teater in Kaapstad op Woensdag 9 September aangebied.

Hierdie geleentheid vier die bydraes wat op die gebiede van kuns, kultuur, taal, erfenis, biblioteke, museums en argiewe in die provinsie gelewer is.

Norman Cloete, Lesch se voormalige skoolhoof by Hoërskool Westen, het hom vir die toekenning genomineer. Cloete het Lesch se besondere verbintenis met die Weskus en sy mense beklemtoon het.

Volgens Cloete is Lesch “’n gebore Weskusser” met ’n diepe meelewing met vissersgemeenskappe, hul geskiedenis, lot en oorlewingstryd. “Sy passie vir die mense se erfenis en die wyse waarop hy dit deur sy kuns prominensie gee, is verkwikkend. Elton se rol in die bewaring van ons erfenis verdien erkenning,” het Cloete in sy motivering vir die nominasie gesê.

Vir Lesch is die toekenning egter meer as net persoonlike erkenning. “Dit was vir my ’n bevestigende antwoord vanaf God dat ek moet voortgaan met Sy opdrag om ons mense se storie te bewaar en te vertel,” sê hy.

Ongeveer twee en ‘n half jaar gelede het Lesch in sy geboortedorp, St Helenabaai, by De Palms-leefstylsentrum ‘n kombinasie van ‘n galery, teater en opspringmuseum begin. Deur verskillende kunsvorme gebruik hy sy platform om die erfenis, kultuur en stories van die Weskus op ’n outentieke manier te bewaar en te vertel.

Lesch sê identiteit speel ‘n sentrale rol in sy werk. “Ek glo dat baie van my Khoi-mense steeds sukkel om hul ware identiteit te verstaan. Identiteit vorm ‘n mens en gee jou menswaardigheid. As jy nie weet waarvan jy kom nie, weet jy heel moontlik nie waarheen jy oppad is nie, en dan lyk alle ander paaie reg.”

Hy waarsku ook dat ’n gemeenskap wat nie sy geskiedenis ken nie, kwesbaar kan wees oor sy toekoms. “As ‘n mens nie weet waarvan jy kom nie, kan enige iemand met jou toekoms mors.”

Die erkenning het Lesch se oortuiging versterk dat hy op die regte pad is. “Elke keer wanneer God my wys ek is op die regte pad met hierdie opdrag van kultuurrestorasie, voel ek tevrede – miskien selfs trots.”

Lesch finansier tans die projek grootliks self en sê hy betaal die huur uit sy eie sak. “Ek sien wat ek nou bedryf as ‘n prototipe van ’n befondsde, standvastige projek om ons kultuurhistoriese storie ten toon te stel.”

Hy nooi mense en organisasies wat belangstel om te help om dié visie verder uit te bou om met hom in verbinding te tree.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 September 2026
    Weslander E-Edition – 10 September 2026

Gift this article