Munisipale werkers doen herstelwerk aan die drein.

Probleem met drein laat kommer


Slegte paaie en dreineringspro­bleme wek groot kommer by ‘n Weslander-leser, wat die koerant genader het om die aandag te vestig op die haglike toestand van ‘n probleemrioolgat in Kootjies­kloofstraat.

Die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, het die roete reeds in 2025 gereeld met passasiers gery. Hy is bekommerd oor die veiligheid van motoriste en voetgangers asook die onaangename reuk en water wat met die rioolgat gepaardgaan.

Volgens die inwoner moet voertuie om die rioolgat uitswaai, wat verkeer ontwrig en ‘n gevaar kan skep, veral vir motoriste wat nie van die probleem bewus is nie.

Die inwoner sê ook groter voertuie, soos busse, kan nie altyd behoorlik by die busstop intrek wanneer die sloot vol water is nie.

Ethne Lawrence, ‘n woordvoer­der van die Saldanhabaai-munisi­paliteit, het bevestig die munisipaliteit is bewus van die probleem, maar sy sê onwettige rommelstorting is die oorsaak.

Volgens Lawrence is die dreine reeds op Maandag 29 Junie vanjaar skoongemaak en dit word gereeld gedoen. “Solank onwettige rommelstorting egter voortduur, sal dit moeilik wees om ‘n permanente oplossing te verseker. Herstelwerk aan die pad en rioolgat is vir die week van 4 September geskeduleer. Terwyl die onderhoudspan besig was om die dreine skoon te maak, het iemand uit die gemeenskap ‘n emmer met ontlasting in die drein kom leegmaak. Sulke optrede vererger die probleem en bemoeilik die doeltreffende instandhouding van die infrastruktuur,” het hy gesê.

Wat waarskuwingstekens en veiligheidsmaatreëls betref, sê Lawrence die nodige herstelwerk word gedoen en die gebied be­hoort, sodra die werk voltooi is, weer in ‘n bevredigende en veilige toestand te wees.

Die inwoner se kommer beklemtoon intussen die uitwerking wat swak dreinering en afvalstorting op inwoners se daaglikse beweging en leefomgewing kan hê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 September 2026
    Weslander E-Edition – 10 September 2026

Gift this article