Storievertellers van St. Helenabaai, Saldanha, Paternoster, Langebaan en Vredenburg het op Vrydag 17 April byeengekom om hul geskiedenis by Oppikaai-restaurant in St. Helenabaai te vier.
Die dag het gefokus op mondelinge geskiedenis en storievertelling, waar jong mense uit die gemeenskappe die geleentheid gehad het om met ouer mense in hul gemeenskappe te gesels en hul stories vas te lê.
Organiseerders wou plaaslike geskiedenis, wat baiekeer nie opgeteken is nie, sigbaar maak en gesprekke tussen generasies aanmoedig.
Daar is ‘n werksessie aangebied waar deelnemers basiese vaardighede in storievertelling, onderhoudvoering en etiek geleer het. Daarna het hulle hul eie onderhoude gevoer met mense in die gemeenskap oor temas soos geskiedenis, herinneringe, en hoe die dorp oor tyd verander het.
Elton Lesch, plaaslike kunstenaar, het ook as fasiliteerder opgetree by die werksessies in St. Helenabaai en Saldanha. Hy is ook getaak met ‘n muurskildery wat die geskiedenis van die historiese mense van die gebied uitbeeld. Die skildery is te sien by die Oppikaai-restaurant.
Organiseerders meen die gemeenskapsuitstalling was die laaste deel van hierdie proses. “Dit was vir ons belangrik om die stories terug te bring na die gemeenskap toe. Ons hoop is dat die projek nie net stories bewaar nie, maar ook ‘n vonk aansteek. Dat jongmense meer nuuskierig raak oor hul geskiedenis.”






