LANGEBAAN – Die 12-jarige kunstenaar en musikant Minke Oosthuizen van Langebaan het verlede Vrydag (25 September) die kollig gesteel. Sy het aan die Show Your Talent-kompetisie by Curro Sitari in Somerset-Wes aan ses items deelgeneem en goud vir al ses verower.
Oosthuizen het aan Creative Works Painting, Instrumental Solo Piano, Instrumental Solo Guitar, Singing Solo Pop, Singing Group Duet en ‘n Variety Act met ukulele en sang deelgeneem.
Haar prestasie het haar ook ‘n plek in die Showcase-vertoning besorg, terwyl sy tydens die speisale toekennings met vyf trofeë vereer is.
Sy het twee trofeë vir kuns, twee vir die variété-optrede en een vir klavier ontvang.
Oosthuizen het haar genres in kuns, variété-optrede en instrumentele klaviersolo gewen, asook haar onderskeie afdelings.
Die jong kunstenaar se prestasie het haar weer die geleentheid besorg om Suid-Afrika volgende jaar in Junie by Talent America in New York te verteenwoordig.
Dit is nie die eerste keer dat Oosthuizen op internasionale vlak sukses behaal nie.
Tydens Talent America 2025 in New York het sy verlede jaar haar afdeling in klaviersolo gewen en ook die eerste plek in dié afdeling behaal.
Sy het verder in solosang ‘n indrukwekkende reeks prestasies behaal deur onderskeidelik eerste, tweede en derde plekke te verower.





