Die PnP Goue Beker-kompetisie het voorverlede Saterdag (26 September) vir 32 klubrugby- spanne van die 15 rugbyunies van SA Rugby afgeskop en sal bepaal wie SA Rugby se beste klubrugbyspan is.

Vir die 2025 Sanlam-Boland-kampioen, Saldanhabaai, was dit ‘n tweede deelname aan die kompetisie, en vir Sameul Greyling (kaptein) en sy span wat deur Danie de Villiers afgerig word, was dit ‘n geskiedkundige oomblik.

Saldanhabaai word oor die jare heen as een van die beste klubspanne beskou en die verowering van die 2025 Sanlam-Boland-Top-12-trofee spreek boekdele hiervan.

Die span wat deur Greyling vanuit die binnesenterposisie aangevoer word, het rugbyliefhebbers met sy deursettings vermoë verras – dit nadat hy sleutelspelers verloor het maar steeds toon dat hy ‘n krag in klubrugby is.

In sy eerste wedstrstyd van die PnP Goue Beker-komeptisie het hy die Pacalsdorp Evergreens getroef, juis toe dit gelyk het of dié SWD-span hom op tuisbodem sou klop.

Die span het daarna op Vrydag 2 Oktober sowat 885 km van Saldanha na Uitenhage (nou Kariega) afgelê om die tuisspan, Gardens, op tuisbodem te pak.

Saldanhabaai het naelskraaps met 22-17 teen Gardens verloor en nogtans karakter getoon toe hy gewys het dat die lang busrit vir hom nie ‘n faktor was nie.

Saldanhabaai het die eerste helfte afgesluit met ‘n voorsprong van 10-7, met Morne Alexander en Darren Visser wat elk ‘n drie gedruk het. Ongelukkig kon Wilton Hoogbaard nie met die doelskoppe slaag nie.

Oorwinning in beseringstyd

In die tweede helfte het Greyling en sy manne weer die Weskusspan se krag getoon deur die voorspong te vergroot toe Klihan Valentynin die 47ste minuut gaan druk het, met Hoogbaard wat suksesvol verdoel het om die telling 17-10 te maak.

Met 10 minute speeltyd oor het dit gelyk of die span van Greyling die Kariegas ore gaan aansit, maar ‘n strafskop en ‘n verdoelde drie in die 71ste minuut het die twee spanne gelyk laat trek, met 17 elk.

‘n Onverdoelde drie in beseringstyd deur Gardens het Saldanhabaai se anker finaal gelig en Greyling en sy manne se wedloop in hul reis na die kwarteindstryd beëindig.

Met dié oorwinning het Gardens as die enigste Oos-Kaapse verteenwoordiger vir die Goue Beker-kwarteindronde gekwalifiseer.

Daarmee is Saldanhabaai se hoop om vir die nasionale klubtoernooi se kwarteindstryd te kwalifiseer ook verydel.

Saldanha hoef nie sleg te voel oor die verloor nie. Hy is deur ‘n span geklop wat op die dag sy geleenthede benut het. Met sy deelname in die Goue Beker-toernooi iets van die verlede, kan Saldanhabaai nou op die verdediging van sy Sanlam Boland-Top-12-titel fokus.

Roses United sal nou die enigste Boland-verteenwoordiger in die Goue Beker wees wanneer hy komende Saterdag (10 Oktober) sal poog om Durbanville-Bellville op Pellikaanpark in Wellington te troef.

‘n Oorwinning sal Roses nie net ‘n plek in die halfeindstryd besorg nie, maar ook die Wes-Kaapse klubrugbykroon verseker.

Punte:

Saldanhabaai 17(10)-Gardens 22(7).

Saldanhabaai: Drieë: Klihan Valentyn, Darren Visser en Morne Alexander. Doelskop: Wilton Hoogbaard.

Gardens: Drieë: Naylan Goeda, Navan Goeda, Pedro Barendse. Doelskoppe: Naylan Goeda (2). Strafskop: Naylan Goeda.

Kwarteindstryd-bepalings vir komende Saterdag (10 Oktober):

Noordelike afdeling:

Naka Bulle t. Randfontein (Pretoria), Northam Rhinos t. Brakpan (Brakpan).

Suidelike-afdeling:

Roses United (Wellington) t. Durbanville-Bellville, College Rovers (Durban) t. Gardens.

LEES OOK: Saldanha in eindtryd.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 15 October 2026
    Weslander E-Edition – 15 October 2026

Gift this article