Op Saterdag 17 Oktober het die Sanlam Boland Top 12-kompetisie (SBT12) van die Boland Rugbyunie amptelik in Saldanha, Wesbank,Hawston, Wellington, Vredendal en Robertson afgeskop met die 12 beste spanne van die ses streke.
Vir die Weskusspanne was daar gemengde welslae met Saldanhabaai-rugbyklub wat sy tuiswedstryd teen Worcester Villagers met 21-10 gewen het, terwyl die Burg Boys van Vredenburg teen Roses United met 28-33 vasgeval het.
As die eerste ronde wedstryde in ag geneem word, gaan 2026 SBT12-uitspeelrondes een van die strafste wedstryde in die geskiedenis van die kompetisie wees.
Met ‘n paar naelskraap-oorwinnings en ‘n tuisveldvoordeel kan daar ‘n paar verrassings voor Saterdag 21 en Saterdag 28 November se semi-finale en eindstryd opduik op die Boland-stadion in Wellington.
Saldanhabaai teen Worcester Villagers
Saldanhabaai, verdedigende kampioene, het besoek van Worcester Villagers van anderkant die Hugenote-tonnel ontvang.
Sameul Greyling en sy spanmaats, wat twee weke gelede deur die Oostelike Provinsie Rugbyunie se Gardens van Uitenhage uit die PnP Goue Beker-ronde 16 geskakel is, het die besoekers se druk weerstaan en weereens sy komkommerkoel kalmte getoon.
Met goeie verdediging aan beide kante het dit nie net die hoé gehalte rugby van die kompetisie getoon nie, maar ook gewys dat ondersteuners kan uitsien na opwindende rugby. Saldanhabaai se dissipline het hulle as die beter span op die veld gemaak as die besoekers wat hulle ‘n voorsprong van 16-5 besorg het rustyd.

Ná die hervatting van die tweede helfte het Saldahabaai steeds by sy wedstryd plan gehou deur Villagers tot foute te dwing en dan aanvalle geloods, wat Jivanno Melouw drie in die 50ste minuut gelei het. Snyders was onsuksesvol met die doelskop en die telling het bly staan op 16-10.
Terwyl Villagers alles in sy vermoë gedoen het om Saldanha se verdediging te breek,het Saldanha staande gebly onder die druk. In die 65ste minuut loods Saldanha ‘n aanval op Villagers se doelyn deur ‘n goeie voor- en agterspel-kombinasie wat lei tot Luciano Farmer se drie wat die wedstryd buite bereik van Villagers plaas. Snyders maak geen fout met die doelskop nie en neem die telling tot 21-10.
Saldanha se verdediging was sy kernpunt en Villagers se aanvalle in die laaste minute van die wedstryd gestaan tot die eindfluitjie geblaas het.
Vredenburg teen Roses United
In nog ‘n groep-A-wedstryd het Roses United Vredenburg se Burg Boys in die eerste paar minute van die wedstryd oorweldig. Dit het egter nie die Burg Boys ontsenu nie, maar hulle nog meer gemotiveer.
Hulle het ‘n agterstand van 28-13 teen rustyd in die tweede helfte verminder na 28-33 deur 15 punte aan te teken teenoor die 5 van Roses.
Terwyl Vredenburg se verdediging hulle in die eerste helfte in die steek gelaat het, het hulle in die tweede helfte daarvoor opgemaak.
Met beter balbesit en samespel tussen die voor- en agterspelers het hulle Roses se verdediging gebreek. Hulle was net by tye ongelukkig om nie nóg punte in die laaste paar minute van die wedstryd te kon kry nie.

Met die eerste ronde agter die rug kan die span nou fokus op die foute wat hulle teen Roses begaan het en regstein die oefeninge hierdie week voor hul tweede wedstryd teen Robertson Town komende Saterdag op Vredenburg.
Die strawwe SBT12 het weereens Saterdag bewys dat geleenthede benut moet word, want dit kom nie ‘n tweede keer nie. Die Burg Boys het die potensiaal om hulle uit posisies te speel soos bewys Saterdag teen Roses.
Ander uitslae
- Hawston 36-3 Abbotsdale
- Robertson Town 54 -10 Delicious NW
- Roses United 33-28 Vredenburg
- Saldanha 21-10 Worcester Villagers
- Invincible 24-26 Bella Vista
- Wesbank 32-46 Safcol United.
Wedstryd Bepalings vir Saterdag 24 Oktober
Groep A: Vredenburg t. Robertson Town, Abbotsdale t. Roses United en Delicious Noord-Weste t. Hawston.
Groep B: Safcol United t. Invincible, Worcester Villagers t. Wesbank en Bella Vista t. Saldanhabaai
LEES OOK: Dis weer tyd vir Top-12!





You must be logged in to post a comment.