Slaggate en ‘n modderige pad in die winter maak dit vir Hopefield-inwoners moeilik om dié pad te gebruik.

Die sloering van die instandhouding van strate in Hopefield is vir baie inwoners ‘n kopseer.

Volgens Thessa Joubert, ‘n inwoner van die dorp, word daar geen aandag geskenk aan die toestand van Kerkstraat en Rivierstraat nie. Die inwoner meen dat talle pleidooie met e-posse, oproepe en foto’s gerig aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) vir jare al op dooie ore val.

“Daar was al vergaderings en is be- planning gedoen, maar niks gebeur nie. In die somer is dit net sand en stof wat op die huise trek en in die winter is dit ‘n snotterige en gladde modder gemors wat klou aan die voertuig. As dit reën, hardloop die water van die pad se kant deur ons erwe en deur die garage. Daar is al baie skade gelei, maar steeds word skouers opgetrek. Wat moet ons as inwoners doen om iets te laat gebeur?”

Volgens Tereza Burger, woordvoerder van SBM, het vorige kapitaalbegrotings wel voorsiening gemaak vir openbare werk op Rivier- en Kerkstraat, maar dit was vir periodieke onderhoud aan die suidelike dele.

“Die versoek om die paaie (Kerk- en Rivierstraat aan die noordkant van Hopefield) struktureel op te gradeer en te verbeter, is geregverdig en sal na die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (Integrated Development Plan [IDP]) verwys word. Die ontwerp en konstruksie van Kerk- en Rivierstraat sal ook dienooreenkomstig na die toepaslike munisipale kapitaal-begrotingsplan vir goedkeuring en implementasie verwys word. Hierdie stappe vorm deel van ‘n langer termyn oplossing. Genoemde strate is grondpaaie met ‘n lae verkeers- lading. Die oppervlak-kondisie word as redelik beskou, maar ongelukkig met ‘n baie lae padvlak en swak dreinering.”

Burger voeg by dat, met verwysing na die bestaande, korter termyn oplossing, skraapwerk en bestaande onderhoud deel is van ‘n voortgesette, roetinepadonderhoudsprogram.

“Hierdie werk sal voortgesit word soos beplan en volgens die bestaande onderhoudskedule.”

Joubert meen ook om die pad te skraap bring geen verbetering nie, en is nie ‘n langtermyn of permanente oplossing nie. “Ons is moeg en keelvol. Daar is net een oplossing en dit is om die pad te teer.”

Thessa Joubert.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article