Tot die Bodem toe, 'n rubriek deur Alida Buckle
Tot die Bodem toe, ‘n rubriek deur Alida Buckle

“Daar’s ‘n kind weg in Middelpos, Alida.”

Met dié woorde vroeg Dinsdagoggend 20 Februarie 2024 het ‘n reeks gebeure rondom die destydse sesjarige Joshlin Smith ontvou soos wat ek as ervare joernalis nog nooit beleef het nie.

My bron se volgende woorde het my egter nog kouer laat word. “Daar’s iets dodgy omtrent die ma. Yskoud, sê ek jou. Yskoud. Tree glad nie op soos ‘n ma wie se kind weg is nie.”

Met my Weslander-hempie, denim en tekkies jaag ek deur na die Saldanha-polisiekantoor; van daar na Middelpos waar dit ‘n gemaal van mense van die straat af tot anderkant ‘n vieslik vuil stroompie is.

“Hier’s die ma. Praat self met haar,” beduie gemeenskapslede my sommer met my aankoms na ‘n klein vroutjie met ‘n rooi top. Toe sy omkyk, kyk ek vas in die mooiste grysgroen oë… wat vinnig afkyk, na haar selfoon toe.

“So jammer om van jou kind te hoor,” sê ek. “Wanneer het sy weggeraak?”

Kelly kyk oral behalwe in my oë terwyl sy vertel hoe sy net gewéét het daar is fout toe sy die kinders roep vir aandete en Joshlin is nie – glo soos gewoonlik – eerste daar om haar kos te kom eet nie.

“Sy is erg oor kos,” sê Kelly en ek glo haar. Ek hang aan haar lippe; gee haar skouer ‘n sagte drukkie, want ek weet my hart sal in stukke wees as een van my kinders iets moet oorkom.

Sy word deur ‘n polisiebeampte weggeroep. Ek en nog twee vroue staan en kyk haar agterna; beweeg saam met die groep mense versigtig oor die stroompie na die houthokkie wat half eenkant van die ander op die wal van die vieslike stroompie staan. Ons moet versigtig op stukke beton en klippe trap om nie tussen die slik en riool in die “stroom” te beland nie.

In die uitgeloopte paadjie na die hokkie besef ek – hier moet ek vandag kýk waar ek loop, want ek trap amper bo-op ‘n vuil babadoek.

Die mense maak hul hande bak om hul oë om deur die venster van die hokkie te probeer sien; druk tot teenaan.

Ek wonder, waar’s die crime scene tape dan? Die mense kon die hokkie net sowel optel en wegdra as hulle wou.

Nog polisie- en weermaglede kom op die toneel aan. Nou eers word die gemeenskap gevra om weg te staan van die hokkie af. Ek word bruusk gekeer om van die ander kant af foto’s te neem.

As daar enige bewysstukke óm dié hokkie was, dink ek, het die gemaal van mense dit lankal doodgevee.

Die polisie ondervra Boeta naby die hokkie se deur. Hy bly net koponderstebo sit.

Ek hou Kelly dop, wat ‘n ent weg staan. Sy kyk nie links of regs nie; is die hele tyd net besig met haar selfoon. Of sy máák of sy besig is met die foon sodat sy nie die gemeenskap in die oë hoef te kyk nie, dink ek, óf sy het regtig erg baie data, want dit is later ure.

Op al my foto’s, sien ek later, is sy op daai foon.

Met wie sy daai dag so gedurig kontak gehad het, sal net sy weet, want in die hofsaak het sy net sit en gluur.

Dit was seker die mees uitgerekte hofsaak wat ek nog bygewoon het – soveel vrae; so min antwoorde.

Al sit Kelly, Boeta en Steveno vandag vir mensehandel en ontvoering in die tronk, sit die gemeenskap van Saldanha en omgewing steeds met dieselfde – en selfs meer – vrae, soos waarom die

staatsaanklaer, Zelda Swanepoel, stilgemaak is toe sy oor ‘n vermeende sangoma begin praat het?

“No, we’re not going there…”

Joshlin se verdwyning hou volgens die getuienis wat aangehoor is op by die punt waar Kelly en Joshlin in die wit motor klim en in die rigting van Diazville wegry.

Dit kon net sowel ‘n mistige dag gewees het, met ‘n motor wat met ‘n kind in die niet verdwyn… tot vandag toe.

Omdat glad nie oor selfoondata of beeldmateriaal van die munisipale

kameras af getuig is nie, beteken dit sulke bewysstukke bestaan nie?

Joshlin se agtste verjaarsdag is verlede week herdenk. Haar skoolmaatjies, onderwysers en familie by Diazville Primêr het in haar afwesigheid ‘n seremonie gehou.

Ek bly dink aan die wolk wat kort ná Joshlin se verdwyning oor Middelpos en Diazville in die lug gehang en kompleet soos ‘n engel met wyd uitgestrekte vlerke gelyk het.

Asof Joshlin die soekery gade slaan.

Of nie.

Kan diegene wat weet, nie net uitkom met die waarheid nie?

Skryf dit in ‘n brief en steek dit onderdeur ‘n deur … laat hierdie oorverdowende stilte net vir eens en vir altyd verbygaan.

Asseblief.

Die Weskus vra mooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article