‘Skool se bate is sy mense’, vertel André Swarts, nuwe skoolhoof van St. Andrew’s Primêr

André Swarts, skoolhoof van St. Andrews Primêr.
André Swarts, skoolhoof van St. Andrews Primêr.

‘Skool se bate is sy mense’, vertel André Swarts, nuwe skoolhoof van St. Andrew’s Primêr


Ná drie dekades in die onderwys glo André Swarts steeds dat elke kind die geleentheid verdien om suksesvol te wees.

As die nuwe skoolhoof van St. Andrew’s Primêr, waar hy sedert Julie aan die stuur staan, wil hy voortbou op die skool se sterk punte en saam met personeel, ouers en die gemeenskap ‘n omgewing skep waarin elke leerder sy of haar volle potensiaal kan bereik.

Swarts se onderwysloopbaan het in Mei 1996 by ‘n multigraadskool net buite sy geboortedorp, Porterville, begin.

Wat as ‘n nederige begin beskryf kan word, het die grondslag gelê vir ‘n loopbaan waarin hy by verskillende soorte skole gewerk en waardevolle ervaring as opvoeder en departementshoof opgedoen het.

Swarts sê oor die jare het sy ervaring as opvoeder en departementshoof hom nie net professioneel gevorm het nie, maar ook sy passie vir die ontwikkeling van kinders en mense versterk.

“My bereidwilligheid om te leer het my gebring waar ek vandag is. Ek het met verskillende gemeenskappe, leerders en kollegas gewerk, en dit het my geleer dat daar nie ‘n resep is wat vir elke skool werk nie. Jy moet eers die mense leer ken, luister, verstaan en dan saam begin bou.”

Ná sy eerste paar maande by St. Andrews Primêr sê Swarts dat dit tot dusver ‘n leersame en verrykende erva- ring was. Sy eerste indruk van die skool was een van geweldige potensiaal.

“Ek het ‘n entoesiastiese personeel- korps ontmoet wat oor waardevolle ervaring, kennis en vaardighede beskik en wat, ten spyte van verskeie uitdagings, steeds daarna streef om ‘n positiewe verskil in die lewens van ons leerders te maak. Ek glo dat die grootste bate van enige skool sy mense is, en daarom heg ek besondere waarde aan samewerking, wedersydse respek, goeie kommunikasie en spanwerk,” vertel Swarts.

Sy droom is om St. Andrew’s Primêr oor die volgende drie tot vyf jaar te sien groei tot ‘n skool van uitnemendheid waarop die gemeenskap trots kan wees.

“Ek wil verbeterde akademiese prestasie, goeie dissipline, beter hulpbronne en groter geleenthede op sport- en kultuur-gebied sien. Die feit dat St. Andrew’s Primêr nou ‘n voldiensskool is, bied opwindende moontlikhede vir inklusiewe onderwys, waar leerders met uiteenlopende leer- en ondersteuningsbehoeftes die geleentheid kry om met die nodige ondersteuning hul volle potensiaal te ontwikkel.”

Bo alles wil Swarts sien hoe St. Andrew’s Primêr ‘n skool van hoop, geleenthede en nuwe moontlikhede moet word waar geen kind agtergelaat word nie.

LEES OOK: Juffrou lê tuig neer ná 38 jaar

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 29 October 2026
    Weslander E-Edition – 29 October 2026

Gift this article