VREDENBURG – Om gesinne en families te herenig en vermiste mense veilig na hul geliefdes terug te bring, is die missie van Search and Rescue Vredenburg en Saldanha, ‘n onafhanklike groep vrywilligers wat hul tyd en energie daaraan wy om mense in nood te help.
Die groep is in Augustus 2024 deur Lisa Solomons, in samewerking met Fannie Gertze, gestig ná die verdwyning van die jong Romano Fredericks in 2024.
“In die dae van intense onsekerheid wat gevolg het, het ek besef dat ons as gemeenskap nie bloot kon toekyk nie. Daar was ‘n tasbare leemte en ‘n dring- ende behoefte vir ‘n gekoördineerde en plaaslike reaksiespan,” sê Solomons.
Kort na Fredericks se verdwyning in Augustus 2024 het sy besluit om Search and Rescue Vredenburg amptelik te stig.
Volgens Solomons word die span deur hul passie en deernis vir die mensdom gedryf. Sy sê die sukses van hul werk is te danke aan die toegewyde vrywilligers wat hul tyd afstaan om ander te help.
Met die polisie wat onder groot druk verkeer, beskou die groep dit as ‘n voorreg om ondersteuning te bied waar hulle kan.
Solomons sê dit is bemoedigend om te sien hoe vrywilligers hul missie voortsit, ongeag die uitdagings wat hulle in die gesig staar.
Die groep ervaar egter ook praktiese struikelblokke, waaronder ‘n tekort aan vervoer en die hoë koste van brandstof. Solomons hoop dat die gemeenskap sal saamstaan om die organisasie te ondersteun sodat hulle hul werk kan voortsit.
“Wanneer dit by vermiste persone kom, hanteer ons elke saak met liefde en omgee, omdat iemand se lewe op die spel is,” sê sy.
Sy moedig families en geliefdes aan om die korrekte prosedures te volg en eers ‘n saak by die polisie aan te meld sodat die nodige stappe gevolg kan word.
Solomons het haar dank uitgespreek teenoor elke lid wat steeds ‘n bydrae
lewer en glo die organisasie sal groei. Kontak Solomons by 071 225 3566 vir nog inligting en om die groep by te staan.
LEES OOK: ‘Moenie wag as iemand vermis raak – meld dit gou aan’





