Vredenburg se verdediging sorg dat dié speler van Young Hearts nêrens heen met die bal gaan nie. Foto’s: Alida Buckle

Die Burg Boys en Saldanhabaai is steeds die voorlopers nadat hulle Saterdag (25 April) met Young Hearts en Paternoster op onderskeidelik Vredenburg en in die Saldanha Transnet-stadion afgereken het.

Vredenburg se “Burg Boys” het Young Hearts van Pella in Vredenburg gepak en rugby-­ondersteuners was geensins teleurge­stel nie. Hearts, wat die nommer-vier-posisie beklee het, het geen geheim daarvan gemaak dat hulle die Burg Boys ‘n moeilike tyd in Vredenburg gaan gee nie.

Vir die Burg Boys was die wedstryd belangrik om te wys dat hul vertonings hulle nie net die eerste plek besorg het nie, maar dat hulle die span is wat tans die pas in die Weskusstreek aangee, met Saldaha nie ver agter nie.

Hearts, wat vroeg ‘n terugslag in die liga beleef het, het gewys dat hulle uit hul foute geleer het en die Burg Boys nie enige fout kon bekostig nie. Die wedstryd is van die afskop af onder die twee swaar pakke voorspelers beslis, wat ondersteuners op ‘n klipharde stryd voorlangs voorberei het, met die rustydtelling 15-7 ten gunste van die Burg Boys wat dit bevestig het.

Hoewel Hearts in die tweede helfte met goeie spel vorendag gekom het, kon hulle egter nie die Burg Boys se verdediging breek nie en is met 25-10 geklop.

In die Transnet-stadion het Samuel Greyling, die kaptein, en sy span in die eerste 40 minute harde bene teen Paternoster gekou en was net twee punte voor (14-12) toe rustyd aanbreek.

Ná rustyd het Paternoster die spel in die eerste 10 minute beheer en in een stadium ‘n voorsprong van 26-21 opgebou. Saldanha het egter hergroepeer en met Grey­ling se uitstekende leierskap het hy die hele Saldanha-span aangesteek en hulle het met meer selfvertroue begin speel. Saldanha het die skare met blitsige aanvalle tussen voor- en agterspelers op hul tone gehou. ‘n Blitsige tsoenami het Paternoster in die laaste 20 minute getref toe Saldanha se agterlyn aanvalle afgestuur het, wat die eindtelling tot 42-26 omgeskep het.

Met dié oorwinnings het die Burg Boys en Saldanha hul lek op Saterdag 2 Mei bespreek om seker te maak dat Weskussers die grootste derby-byeenkoms vir vanjaar in die Saldanha-Transnet-stadion nie gaan misloop nie.

Die Burg Boys is al drie seisoene steeds onoorwonne teen Saldanha nadat hulle verlede jaar die eerste derby met 31-26 (17 Mei 2025) gewen het en die tweede deel met 21-21 in Vredenburg gedeel het.

Saterdag gaan gewis die wedstryd van die seisoen wees tussen die twee voorste spanne van die Weskus – Vredenburg en Saldanha.

Uitslae op 25 April was:

Vredenburg 25-10 Young Hearts; Saldanha 42-26 Paternoster; Piketberg 38-41 Saldanha Tigers; St. Helena 26-24 Velddrif; Hopefield 32-20 Goedverwacht en Langebaan 33-14 Steenberg’s Cove.

Wedstrydbepalings vir Saterdag 2 Mei: Velddrif t. Saldanha Tigers, Young Hearts t. Goedverwacht, Paternoster t. Piketberg, Hopefield t. Langebaan en Steenberg’s Cove t. St.Helena.

Nóg ‘n skoppie oor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article