By kerslig, ‘n rubriek deur Karin Delport

Nou die dag sê ek vir iemand: “Jy beter eers die kat goed uit die boom kyk.”

Sy vra:” Watter kat in watter boom?”

Sien, die ding is, sy verstaan nie abstrakte begrippe nie. Haar brein werk so effens anders.

Die juffrou in die klas raak kwaad vir die kind wat haar terugantwoord as sy iets sê, en beleef die kind as onbeskof, maar in die kind se wêreld antwoord sy bloot die juffrou en gee net feite deur.

My pa het altyd vir my gesê: “Jou pilletjies is op, jou koppie raas weer.” Dit was ‘n uitdaging om my groot te kry. As ek eers daai dowwe uitdrukking in my oë gehad het omdat my lyf teenwoordig was maar my verstand op ‘n heel ander plek, het my ma altyd gesê:” Herhaal wat ek nou gesê het.”

In die oud dae was ‘n pak slae die oplossing vir alles. Ek glo ook aan ‘n pak op sy tyd, want ek is ook al duskant 50. Ek moet bieg – ek is bly daar het ‘n bietjie ontwikkeling gekom oor hoe ons brein werk – veral vir vandag se kinders. Volgens navorsing word ADHD ‘n al groter ­probleem omdat kinders “vierkantige oë” kry van heeldag met foon of tablet sit.

Eenvoudig verklaar, werk iemand se neuro-diverse brein anders. Kom ons gaan veronderstel almal se brein het gekleurde blokkies wat in reguit rye gepak is met kleure bymekaar, netjies opmekaar. Die neuro-diverse brein het dieselfde hoeveelheid blokkies in dieselfde kleur, maar die patroon en hoe dit gepak word, is ‘n ander storie. Die kleure en rye is deurmekaar; onnet.

Die slim mense sê neuro-divers is ‘n sambreëlterm wat gebruik word om mense te beskryf wie se brein anders funksioneer, leer, inligting verwerk en die omgewing waarneem, soos mense met byvoorbeeld ADHD, ADD, outisme, dislek­sie, Tourette se sindroom, OCD en dispraksie. Ongeveer 20% van die wêreldbevolking toon tekens van neuro-diversiteit. Een ding moet ons egter besef – neuro-diversiteit is nie ‘n siekte nie en mense hoef nie so iemand te fix nie. Stephen Covey sê onder andere is sy boek, The 7 habits of highly effective people, een van die eerste stappe is om jouself te verstaan voordat jy enigiets begin doen.

Kom ons probeer mekaar eers verstaan voordat ons net oordeel. Die mensdom is so versigtig en soms bang vir iets of iemand wat anders is.

In teenstelling laat die natuur alles leef. Die son skyn oor die blomme én die dorings en die reën val oor alles. Ons moet meer na die natuur kyk om te leer hoe om met mekaar saam te leef.

Om in ‘n klas van 30 plus individuele aandag aan kinders te gee, is onmoontlik. Selfs in die werkplek is dit moeilik, want almal jaag die leer van sukses. Omdat iemand anders dink en doen, is hulle nie “moeilik” nie , net anders. My pa het altyd gesê as sy hande vasgemaak moet word, sal hy nie kan praat nie, want hy moet beduie en beweeg.

Is dit so moeilik om ‘n oefenrek vir ‘n kind te gee om om sy bene te sit sodat hy dit ritmies kan beweeg en beter konstentreer?

Neuroplastisiteit is nog iets waaroor ek wonder. As jy jou brein kan verander of herstel, hoekom sukkel ons mensdom dan met al die brein-andersheid en breinsiektes soos Alzheimer se siekte? Volgens Jim Kwik kan jy jou brein leer om nuwe breinpaaie te maak en jou brein herstel. Hy het as gevolg van ‘n breinbesering as “the child with the broken brain” bekendgestaan. Vandag is hy een van die mense met die beste geheue wat mense oor die wêreld heen help. Sy lewensverhaal is ‘n storie van hoop. “ ’n Derde van hoe ons brein werk, is as gevolg van genetika, en twee derdes is as gevolg van ons omgewing en ondervinding.”

Volgens Jim kan jy jou brein fix met onder meer geheuespeletjies, legkaartbou, sosiale interaksie , emosionele ondersteuing, breinstimulasie, kognitiewe aktiwiteite – geleenthede om te leer. Dit is baie eenvoudig uiteengesit hier; gaan luister gerus na sy lewensverhaal.

Die “andersheid” veroorsaak onnodige konflik en mense se menswees kry seer. Die maroelaboom het ‘n aparte manlike en vroulike boom en daar is ‘n gemeenskap wat as man en vrou vassit; hulle onderskeidelik aan die manlike en vroulike boom vasmaak word. Daar moet hulle bly tot hul hul verskille opgelos het.

Gelukkig is die bome nie ver van mekaar af nie.

Ek glo ons almal is geskape vir ‘n unieke doel en daarom is elkeen anders. Kom ons vat hande en probeer mekaar eers verstaan voordat ons oordeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article