Die wenspan by Etienne Schutt (klubpresident. heel links) en Herman van Lill (sakeliga-sameroeper, heel regs). en van links, Flippie Snyman, Chris Smit, Terence Lynch en Gerhard Botha. Foto: Alida Buckle

Ná ‘n strawwe seisoen in die die Lagoon-rolbalklub op Langebaan se Wintersakeliga, is ‘n gedugte viermanskap – die Old Men’s Blend wat hul eerste buiging in die liga gemaak het – Donderdag 23 April as die wenspan gekroon.

Altesaam 24 spanne het sedert Maart in twee afdelings aan die wintersakeliga deelgeneem: 12 spanne het dit op Dinsdagaande (Afdeling 1) en 12 op Donderdae (Afdeling 2) uitgespook.

Punte het op die ou end bepaal wie die algehele top-12 behaal. Dié 12 topspanne het dit Donderdagaand om die wenskild uitgespook, met Old Men’s Blend wat met die louere weggestap het deur Boesmanland-slaguis te wen. Boesmanland se tweede plek beteken hulle skuif drie plekke op van die vorige seisoen af.

In die derde plek is Headline Blinds, wat een plek laer as in 2025 eindig. Hulle klop Eco Sport wat weer die vierde plek behaal.

Hyundai eindig vyfde, twee plekke hoër, deur die lewenslustige span van Copy & Paste te wen. Copy & Paste val met drie plekke, na die sesde plek.

Die Rolling Oldies wen Comtel om sewende te eindig. Comtel in die agste plek klim met vier plekke.

Tweede Kans wen Alu Station om negende te eindig. Dit beteken Tweede Kans (10de) het een plek opgeskuif en Alu Station het drie plekke laer geëindig.

Fish Eagles wen Husky’s Restaurant & Bar om onderskeidelik 11de en 12de te eindig.

Weslander, wat twee seisoene afwesig was, eindig 13de deur die simpatiek-gedoopte “Up and coming”-kroon op te eis.

Die spanne wat 14de tot 23ste eindig, is in volgorde: Suzuki Vredenburg, Magic Services, Graythorne, Watergat, Toyota, Langebaan Holiday Homes, Pistor Attorneys, Langebaan Chambers, West Coast Flooring en Beachcombers.

Harcourts stap in die 24ste plek weg met die “Stone Last”-trofeë.

Die sakeliga gee die Lagoon-rolbalklub ‘n welkome finansiële hupstoot om onder meer die terrein op te knap en in stand te hou, maar die groter waarde lê in die aankweek van ‘n liefde vir die sport.

Die klub se geriewe word boonop in ‘n besonder goeie toestand gehou, en selfs met die swaar reën die afgelope tyd, was die setperk steeds speelbaar – iets waarop die klub besonder trots kan wees. Selfs motreën kon nie die spanne Dinsdagaand van die baan af kry nie; dis aanhouers wat wil speel.

Vir die klublede is dit elke seisoen ‘n plesier om nuwelinge touwys te maak en die fynere kunsies en tegnieke van die spel oor te dra. Die reëls word geduldig verduidelik en stap vir stap ingeoefen. “Teen die derde aand kan ons maar terugstaan, dan weet almal wat om te doen,” sê die sameroeper van die sakeliga, Herman van Lill, altyd.

Spelers kon elke aand heerlike kerrie-en-rys, hamburgers of worsrolle koop, wat deur die klub verkoop is.

Die volgende sakeliga vind na verwagting in September plaas, met moontlik een oefenaand per week per maand in die pyplyn. Datums sal nader aan die tyd deurgegee word. Kry al die aksiefoto’s, geneem deur Alida Buckle en Blaze Buckle, op weslander.co.za

Flippie Snyman kry sy lyn. Foto: Alida Buckle
Gerhard Botha rol die bal met ‘n perfekte eindposisie om te verseker dat dit presies gaan waarheen hy mik. Foto: Alida Buckle

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article