Van ‘n onseker matrikulant tot nasionale leierskap, John Manuel se pad vertel van roeping, weerstand en rigting. Hier is hy voor sy tafel van herinneringe. Foto’s: Letitia Van Zyl-Schultz

Afgetrede luit.-genl. John Manuel se loopbaan van 54 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ‘n rekord van diens, maar ook ‘n verhaal van toewyding, opoffering en standvastigheid in ‘n beroep waar min die volle pad stap. Oor vyf dekades het hy nie net die ver- anderende landskap van polisiëring in Suid-Afrika beleef nie, maar ook ‘n blywende indruk gemaak deur sy leierskap en diens aan die gemeenskappe wat hy bedien het.

In ‘n onderhoud met Weslander het Manuel ‘n oorsig van sy merkwaardige loopbaan en die elf range wat hy beklee het, gedeel. Hy is ‘n boorling van Saldanha en een van elf kinders.

Hy vertel hy was onseker oor sy toekoms ná skool. In sy matriekjaar, tydens ‘n kerkdiens, het ‘n prediker egter iets in hom raakgesien en vir hom gesê: “Jy gaan ‘n leermeester word.”

“Ek het nie destyds verstaan hoekom dit vir my gesê is nie, maar later in my loopbaan het ek die impak van daardie woorde besef,” vertel hy.

In 1964 het hy direk ná skool by die polisie aangesluit. Ná opleiding in Duncan Village in die Oos-Kaap het hy as die eerste Saldanha-gebore bruin konstabel na sy geboortedorp teruggekeer, waar hy tot 1967 diens gedoen het.

In 1967 is hy na Oos-Londen verplaas vir opleiding as instrukteur, en in 1969 na die Polisie-opleidingskollege in Bishop Lavis, waar hy later as majoor die hoof van alle praktiese opleiding geword het.

Hy onthou sy jare in die polisie met trots, maar ook met hartseer herinneringe aan rasseverdeling in die apartheidsera. “My grootste rol in die polisie was in menslike hulpbronbestuur,” sê hy.

Manuel het die grootste deel van sy loopbaan aan opleiding gewy. As instrukteur het hy geglo aan streng dissipline, netheid en hoë standaarde. Volgens hom word reëls nie net verduidelik nie, dit word nagekom. Agter sy strengheid het ‘n diep verantwoordelikheidsin gesit om beamptes voor te berei vir ‘n werklikheid waar foute ernstige gevolge kan hê. Hy meen dissipline en netheid is vandag ‘n groot uitdaging binne die polisie, en dat die keuringsproses strenger behoort te wees.

Hoewel hy homself as ‘n streng instrukteur beskryf, het hy daarna gestreef om ‘n voorbeeld van regverdigheid, dissipline en integriteit te wees. Dit is ook waar hy die bynaam “Ysterman” gekry het. “Alles wat ek gedoen het, was as demonstrasie en rolmodel vir my studente.”

Hy was vir bykans 20 jaar hoof van praktiese opleiding by die polisie-kollege in Oos-Londen en het elke ses maande nuwe rekrute opgelei.

Tussen 1987 en 1989 is hy as luit.-kol. na Mitchell’s Plain verplaas, waar hy as stasiebevelvoerder gedien het, in ‘n tyd van intense onluste. Hy het openlik standpunt ingeneem teen die oormatige gebruik van geweld deur die onluste-eenheid. “Ek was nie gelukkig met hoe onluste beheer is nie, veral die gebruik van sambokke,” sê hy.

Vir sy standpunt is hy na Soweto verplaas, waar hy as adjunk-distrikskommissaris van Soweto-Wes gedien het. Hoewel hy die jare daar waardeer het, onthou hy steeds die ongelykhede van die tyd. “Ons moes saam misdaad bekamp, maar kon nie saam ontspan nie,” sê hy oor die aparte ontspanningsgeriewe vir offisiere volgens ras. Hy het die saak op ‘n vergadering geopper en besluit om die fasiliteite te sluit, ‘n besluit waarvoor hy later tot verantwoording geroep is. “Vir my was dit ‘n saak van gelyke regte. Ek het nooit daarvoor teruggestaan nie.”

Manuel is later tot kolonel bevorder en na die hoofkantoor in Pretoria verplaas. In 1993 is hy tot brigadier bevorder en na Durban gestuur om gemeenskaps- polisiëring te help implementeer.

Ná die politieke oorgang in 1994 het hy na Pretoria teruggekeer, en in 1995 is hy aangestel as een van vier nasionale adjunk-kommissarisse.

Sy gesondheid het later begin verswak ná ‘n diabetes-diagnose. Ten spyte van ‘n veeleisende reisprogram, insluitend internasionale verteenwoordiging in België en Brasilië, het hy voortgedien totdat hy in 1999 ná 54 jaar afgetree het.

Sedert 2020 woon hy by sy seun in Saldanha. Sy eggenote van 50 jaar is intussen aan alzheimers oorlede, en hy het ook albei sy bene verloor weens komplikasies van diabetes. Manuel sê sy sterk geloof en waardes het hom deur alles gedra. “Misdaad is ‘n sonde. Ons is almal sondaars, maar ons is nie almal misdadigers nie.”

Hy glo ook dat die polisie en kerke nouer moet saamwerk. “Daar is net een polisiekantoor in ‘n dorp, maar baie kerke. Ons moet nie net die misdaad aanpak nie, maar ook die mens se hart.”

Sy boodskap is eenvoudig, maar kragtig: ” ‘n Goeie polisieman word nie eers op straat gevorm nie, dit begin reeds by die instrukteur in die polisiekollege. Dis hier waar die fondament van dissipline, integriteit en respek vir die gemeenskap gelê word.”

John Manuel met ‘n foto van toe hy jonger was.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article