Mense sê: “Starting over is not a sign of failure, but a testament of resilience and growth.” As ‘n mens mooi daaroor dink, is elke dag ‘n nuwe begin; ‘n kans om oor te begin – nuut te dink, te doen en te voel.
Ons lewe is soos ‘n storieboek. Ons is die skrywer en hoofkarakter. As die lewe maar so eenvoudig en maklik was . . . Om elke oggend wakker te word en die nuwe dag aan te pak soos ‘n nuwe kans en avontuur, is relatief maklik. Dit is egter ‘n ander storie as jy jou werk verloor, of jy gaan deur ‘n egskeiding, of jy verloor ‘n hartsmens. Vir seker is oorbegin dan nie so ‘n maklike ding nie.
As ons lewe dan ‘n storieboek is, moet daar seker ook verskillende hoofstukke met verskillende temas wees. Die waar- heid is dan ook – as een hoofstuk ‘n tsunami is, sal die volgende een dalk net ‘n gewone sandstorm wees en die een wat dan volg soos ‘n heerlike lentedag waar alles lewe kry, met die pragtigste blomme wat begin bloei.
Die lewe gebeur nie net met ons nie. Ons is aktiewe deelnemers, of ons dit nou wil aanvaar of nie. Die mens is geskape as ‘n wese wat keuses kan maak, kan redeneer en kan verander. Die Skepper van die hemel en die aarde gee aan ons elkeen die keuse om in Hom te glo of nie. Dan het ons tog ‘n mate van beheer oor ons lewens. Die feit is ‘n mens kan nie altyd kies watter kaarte die lewe vir ons op die tafel uitdeel nie, maar ons kan beslis kies hoe ons dit wil speel.
Oorbegin is nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Dit lei dikwels tot beter dinge omdat jy uit jou ervarings geleer het.
Jy begin nie weer by Punt Zero nie – jy begin met ondervinding, wysheid en lewenslesse as getuigskrif.
Verskeie lewensverhale word geskryf van mense wat oor begin en nuwe hoofstukke vol hoop en positiwiteit geskryf het. Ons is feilbare mense met kleivoete en wat soms verkeerde keuses maak.
Petrus, wat drie maal gesê het hy ken Jesus nie, het in opdrag van Jesus ‘n visser van mense geword. Die man wat verkeerde keuses gemaak het, het tronk toe gegaan en met sy vrylating ander keuses gemaak. Vandag is hy ‘n miljoenêr en spreker wat mense se lewens verander.
Vele sulke stories bestaan van mense wat só deur die lewe verniel is dat hulle in die gutter kon bly lê het, maar hulle het anders gekies – weer en weer opgestaan en oor begin totdat hulle die mens geword het wat hulle bedoel was om te wees.
As jy ‘n paar keer oor moet begin, is dit ook heeltemal oukei. Dit is soos die langafstandatleet wat baie hard geoefen het. Tydens ‘n oefensessie het hy skeef getrap en sy enkel beseer. Hy was verpletterd, het op sy bed gelê en die depressie het hom beetgepak – tot op ‘n dag. Hy het opgestaan en gaan stap. Nie lank daarna nie het hy stadig begin draf tot hy weer voluit kon oefen. Al kom daar uitdagings, erken jou emosies, werk daardeur en begin weer. Opgee is nie ‘n keuse nie.
Die slim mense sê die volgende stap kan jou help in jou reis na oorbegin. Stop en kyk terug na wat gebeur het, maar moenie daar bly nie. Kyk terug om te eva- lueer en te leer. Vra die vraag: Wat kan ek nou anders of beter doen? Neem een stap op ‘n slag. Dit is beter om klein, realistiese doelwitte te stel; moenie té veel goed gelyk wil verander nie. Dit is belangrik om elke oorwinning te vier, maak nie saak hoe klein nie. Begin net. Fokus op wat jy wil bereik en vertrou jouself. Glo weer in jouself. Moenie toelaat dat ander mense se menings en oordeel jou beheer nie. Jy weet wat die beste vir jou is. ‘n Skinderstorie bly net so een of twee weke in omloop, dan word aanbeweeg na ‘n nuwe storie. Neem verantwoordelikheid; erken jou foute; verwyder negatiwiteit; vergeet die verlede – geniet elke oomblik van die nuwe hoofstuk van jou lewensboek.
Om oor te begin, is ‘n geleentheid om dinge anders te doen; beter keuses te maak. Onthou, as jy ‘n fout begaan het, is dit net ‘n verkeerde keuse wat gemaak is. Jy is nie ‘n fout nie – jy moes net ‘n fout maak om te leer; ondervinding op te doen om beter te word. Moet jouself nie oor en oor met ‘n stok slaan nie. Laat gaan die verwyt. In Psalm 139 staan ons is op ‘n wonderbaarlike wyse geskape. Vergewe jouself dus en begin die nuwe hoofstuk van hoop en seën skryf.
Elke dag wat jy wakker word, is ‘n genade en seën. Nie almal het die voorreg nie. Kies elke dag om beter te doen as die vorige dag. Begin elke dag met ‘n koppie skoon koffie. As jy die koppie nie ordentlik suiwer maak nie en jy gooi melk by, sal jy nog ‘n koffiesmaak kry.
Maak klaar met die verlede sodat die toekoms nie nog ‘n bietjie na die verlede smaak nie.
“You are allowed to outgrow the version of yourself that only knew how to survive. There is still time to learn how to live.”
‘n Mens is nooit te oud om oor te begin nie.





