Die aardskkudding is wyd gevoel, maar die oorsaak of omvang kon nog nie vasgestel word nie. Foto-samestelling: ChatGPT

Inwoners gons oor Weskus se vermeende ‘aardbewing’

Die aardskkudding is wyd gevoel, maar die oorsaak of omvang kon nog nie vasgestel word nie. Foto-samestelling: ChatGPT

Sosiale media het die afgelope paar dae behoorlik gegons oor ‘n “aardbewing” wat die Weskus die afgelope Sondagaand (12 Julie) blykbaar vir ‘n kort tydperk plek-plek geskud het.

Chantel Britz, ‘n inwoner van die Lampiesbaai-woonbuurt in St. Helena­baai, se Facebookplasing oor haar ­ervaring het spoedig dosyne kommentare van Weskussers, wat húl ervarings en menings oor die “aardbewing” gedeel het, tot gevolg gehad.

Chantel en haar man, Ruben, het die voorval aan Weslander bevestig en sê hulle het nog nooit so iets beleef nie. “Ons het omstreeks halfelf die aand in Lampies-rylaan, naby Golden Mile in St. Helenabaai, skielik gevoel hoe ons huis se hele dak begin skud. Vir ‘n paar oomblikke het ek nie geweet wat aangaan nie. Dit was ‘n baie vreemde en skrikwekkende ervaring.”

Volgens Chantel het sy kort daarna, teen ongeveer 22:40, gesien hoe mense van oral oor in die Weskus begin kommentaar lewer op haar plasing en dat hulle dit ook gevoel en gehoor het.

“Tot dusver was daar berigte van Yzerfontein, Langebaan, Jacobsbaai, Saldanha, Vredenburg, Paternoster en St. Helenabaai. Dit wys net hoe wyd die aardbewing gevoel is. Gelukkig lyk dit of almal veilig is, maar dit is gewis iets wat ons nog lank sal onthou.”

Volgens van die kommentare blyk dit ‘n ligte aardbewing het in die Saldanha­baai- munisipale gebied voorgekom.

“Ek het dit duidelik in Saldanha gevoel en dit het minute geduur.”

“Het net ‘n geluid gehoor soos iets wat ontplof.”

“My vensters het geruk en my hond Moxie was vreesbevange.”

“Was erg in Paternoster vir hele paar sekondes.”

“Ons huis se ligte het geflikker.”

“Dit het geklink soos ‘n ontploffing.”

Selfs Google AI, ‘n kunsmatige intelligensie, het ook gou ‘n “mening” en moontlike verklaring vir die Weskus se “aardbewing” gehad. “Op grond van die beskrywing van die gevolge kan ‘n ingeligte skatting egter gemaak word. Die aardbewing is op verskeie plekke gevoel, waaronder Yzerfontein, Langebaan, Saldanha, Vredenburg en St. Helenabaai, met die skrywer wat meld dat haar dak geskud het. Op grond hiervan is dit waarskyn­lik dat die aardbewing ‘n ligte omvang gehad het. Aardbewings van hierdie omvang word gewoonlik gevoel, maar veroorsaak selde noemenswaardige skade,” meen Google AI.

Navorsing het bevind dat breuklyne wel in en rondom die Saldanhabaai- munisipale gebied bestaan, hoofsaaklik as deel van die breër Colenso-breukstelsel.

Die Colenso-breuk is ‘n groot geologiese grondgesteentestruktuur wat oor ongeveer 150 km strek. Hoewel die Wes-Kaap oor die algemeen as ‘n gebied met ‘n lae tot matige seismiese risiko beskou word, aangesien dit ver van aktiewe tektoniese plaatgrense geleë is, kan intraplaat-breuklyne soos hierdie steeds spanning opbou en aardbewings veroorsaak. Die streek ervaar soms geringe, of mikro-seismiese, aardbewings, soos ‘n aardbewing met ‘n omvang van 3,4 op die Richterskaal, wat buite die kus van Saldanhabaai aangeteken is.

Selfs ysbewings, wat verband hou met koue fronte wat die Wes-Kaap in die winter tref, kan hitte-inkrimping van die aardkors veroorsaak.

Aardbewings ontstaan wanneer tekto­niese plate in die aarde se kors teen mekaar beweeg en geweldige spanning langs breuklyne opbou. Wanneer die wrywing te groot raak en die rotse skie­lik breek of gly, word opgehoopte energie in die vorm van skokgolwe vrygestel, wat die grond laat skud.

Aardbewings wek gewoonlik wye openbare belangstelling as gevolg van die verwoesting wat algemeen daarmee gepaard gaan, en soms selfs lewensverlies. Die meeste skade word gewoonlik aangerig deur geboue wat ineenstort en brande wat uitbreek.

Syfers toon dat die Weskus-distrik se munisipale gebied sedert 1970 meer as 500 aardbewings gehad het. Net drie se omvang was egter bo 5 op die Richterskaal. Die meeste, sowat 400, was laer as 2 en is nie gevoel nie.

Die presiese sterkte van Sondagaand se aardbewing kon nie vasgestel word nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article