VELDDRIF – Die aftel na die wegspring van die 2026 Bergrivier-kanomarathon het begin.
Die gewilde kanomarathon begin op Woensdag 15 Julie by die Markstraatbrug in die Paarl en eindig op Saterdag 18 Julie – vier uitmergelende dae later, ná 240 km op die Bergrivier – by die Carinusbrug in Velddrif.
Vanjaar het 80 deelnemers reeds vir die ikoniese wedvaart ingeskryf, wat wêreldwyd as een van die mees uitdagende kanomarathons beskou word. Op die laaste dag begin die eerste roeiers gewoonlik van 12:30 af by die Riviera Hotel in Velddrif te arriveer, waar ondersteuners hulle kan inwag.

Die Weskus-kanoklub sal vanjaar sterk verteenwoordig word met vyf roeiers wat die uitdagende vierdagwedvaart aanpak. Daarbenewens sal vier klublede as toesighouers diens doen. Hulle bly agter die laaste deelnemers om na hul veiligheid om te sien en seker te maak dat elke roeier veilig by die eindpunt uitkom.
Die deelnemerslys sluit reeds twee voormalige wenners in, naamlik die 2024-manskampioen Thomas Lovemore en die 2023-vrouekampioen Christy Shrimpton. Daar is nog geen inskrywing van die 14-malige wenner Hank McGregor nie, hoewel organiseerders meen hy kan steeds sy naam by die deelnemerslys voeg.
Ervaring sal vanjaar weer ‘n groot rol speel. Ralph Teulings en Gerhard Beukes spog elkeen met 42 voltooide Bergrivier-kanomarathons, terwyl Rene Boehm reeds 41 keer die wedvaart voltooi het. Nog vier deelnemers het meer as 30 voltooide deelnames agter hul name, terwyl agt reeds meer as 20 keer die wedvaart voltooi het. Altesaam 14 roeiers hoop om vanjaar hul eerste Bergrivier-kanomarathon suksesvol af te lê.
Die oudste deelnemer is die 78-jarige Johan van Rooyen, wat mik na sy 17de voltooiing. Die jongste deelnemer is die 16-jarige Clair Morton van KwaZulu-Natal.
Die Bergrivier Kanomarathon het oor dekades heen legendariese status verwerf. Jannie Malherbe het die wedvaart 52 keer voltooi en was die wenner in 1963, 1964 en 1965. Edgar Boehm hou die rekord vir die meeste agtereenvolgende voltooiings met 45 tussen 1974 en 2018, terwyl Jean Wilson die suksesvolste vroulike deelnemer is met sewe oorwinnings. Hank McGregor bly die mees suksesvolle roeier in die geskiedenis met 14 oorwinnings, insluitend agt agtereenvolgende titels tussen 2005 en 2012.
Met die eindpunt weer in Velddrif, sien die Weskus uit daarna om deelnemers, ondersteuners en besoekers te verwelkom vir nog ‘n onvergeetlike afsluiting van Suid-Afrika se mees ikoniese kanomarathon.




You must be logged in to post a comment.