Talle roeiers pak môre die uitdagende 240 km-roete van Paarl na Velddrif aan, met die Weskus Kanoklub wat sterk verteenwoordig word.
Die 2026 Bergrivier Kanomarathon begin môre (Woensdag 15 Julie) by die Markstraatbrug in Paarl, waar sowat 80 deelnemers die eerste houe van die vier dae lange wedvaart sal aanpak.
Die ikoniese marathon strek oor 240 km en eindig Saterdag 18 Julie by die Carinusbrug in Velddrif.
Die Weskus Kanoklub sal vanjaar met vyf roeiers aan die wedvaart deelneem. Nog vier klublede sal as sogenaamde “sweeps” diens doen. Hulle volg agter die laaste deelnemers om na hul veiligheid om te sien en te verseker dat alle roeiers veilig deur die roete vorder.
Toeskouers kan uitsien na ‘n feestelike afsluiting wanneer die eerste roeiers na verwagting vanaf ongeveer 12:30 Saterdag by die Riviera Hotel in Velddrif sal begin arriveer.
Weslander sal deur die week oor die vordering van die Weskus-roeiers en die marathon verslag doen.




