VELDDRIF – Die 64ste Bergrivier-kanomarathon het Saterdag (18 Julie) by die Riviera-hotel en die Carinus-brug tot ‘n einde gekom waar twee kampioene aan die oewer gekroon is.
Die Bergrivier-kanomarathon word beskou as een van Suid-Afrika se mees uitmergelende kanomarathons en die ervare kampioen Hank McGregor (48) het sy legendariese status versterk deur sy 15de Berg-titel te wen. Neriyah Dill (20) het haar eerste oorwinning in die vroue-afdeling behaal.
Die Bergrivier-kanomarathon, bekend vir sy uitdagende roete en onvoorspelbare toestande, het verlede Woensdag (15 Julie) in die Paarl begin en oor sowat 240 km stroom-af gestrek.
McGregor, ‘n 11-malige wêreldkam- pioen van KwaZulu-Natal, het die vierdaagse wedvaart van die begin af beheer en in ‘n algehele 18 uur 35 minute en 54 sekondes voltooi. Hy het sy naaste teenstanders, Jeremy Maher en Msawenkosi Mtolo, met bykans 13 minute geklop.
Die laaste skof op die vierde dag – van Zoutkloof na Velddrif – het egter sy eie uitdagings gebied, met koue weer en vlak water, wat die deelnemers behoorlik beproef het.
“Die laaste skof was ‘n tipiese Berg-dag,” het McGregor aan GamePlan Media gesê. “Die water was vlak en die weer koud, maar die gety het ons die laaste 10 tot 15 kilometer gehelp.”
McGregor het al vier dae se skofte gewen en met sy 15de oorwinning sy rekord as die oudste wenner van die wedvaart verder uitgebrei.
“Dit is ongelooflik as ek na die statistieke kyk – 18 wegspringe en 15 oorwinnings. Ek is baie gelukkig,” het hy gesê.
Die jong Joshua Glyn-Cuthbert van die Universiteit Stellenbosch was die enigste deelnemer wat McGregor werklik onder druk geplaas het. Hy het egter op die derde dag ‘n groot terugslag beleef toe sy roeispaan gebreek het nadat sy kano in ‘n boomstomp vasgehaak het. Hy het uiteindelik vyfde geëindig.

In die vroue-afdeling het Dill, wat aan haar derde Bergrivier-kanomarathon deelgeneem het, ‘n indrukwekkende oorwinning behaal.
Dié jong ster van die Wes-Kaap het drie van die vier skofte gewen en in ‘n algehele 21:13:31 klaargemaak.
Dill moes op die laaste dag met siekte worstel en was tweede oor die eindstreep – enkele minute agter Christy Shrimpton. Haar voorsprong oor die res van die veld was egter genoeg om haar eerste Berg-titel te verseker. Sy het meer as ‘n uur voor haar naaste teenstander geëindig.
“Ek het van die eerste dag af probeer om harder as in vorige jare te roei,” het Dill aan GamePlan Media gesê. “Ek het geleer dat jy nie te ver agter moet raak nie, want dit is moeilik om die tyd terug te wen.”
Die vrouepodium was ‘n volledige Wes-Kaapse aangeleentheid, met Shrimpton tweede en Natasha Bradford derde, terwyl die manspodium met McGregor, Maher en Mtolo in die top-drie-plekke almal van KwaZulu-Natal is.
Die Paarl se Heinrich Schloms was die beste Wes-Kaapse manlike deelnemer in die vierde plek.
Entoesiaste het die koue aangedurf en gewag vir die roeiers om die oewer voor die Riviera-hotel te bereik sodat hulle op gepaste wyse verwelkom kon word.




