Moegamat Tabisher (35) het sy borgtogaansoek op 26 Februarie laat vaar en die hof meegedeel hy bring ‘n nuwe aansoek. Foto’s: Murphy Roberts.

Tabasher moeg vir prokureur

Moegamat Tabisher (35) het sy borgtogaansoek op 26 Februarie laat vaar en die hof meegedeel hy bring ‘n nuwe aansoek. Foto’s: Murphy Roberts.

Die vermeende bylmoordenaar Moegamat Tabisher (35) het sy borgtogaansoek op 26 Februarie laat vaar en die hof meegedeel hy bring ‘n nuwe aansoek met ‘n nuwe prokureur.

Tabisher het Dinsdag (3 Maart) weer vlugtig verskyn – met sy nuwe prokureur – en die hof meegedeel hy kan nie meer lekker onthou wat presies op die dag van die voorval gebeur het nie as gevolg van die kophoue wat mense in die gemeenskap hom toegedien het. Die hof het sy borgaansoek tot Dinsdag 24 Maart uitgestel sodat hy met sy nuwe prokureur kan konsulteer.

Hy verskyn tans op aanklagte van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die verdagte word verdink van die moord op sy skoonma, Janet Jordan (67) van Pearl Mansion op 26 Januarie. Die staat voer aan hy het haar met ‘n byl aangeval toe sy net die vrede tussen hom en sy vrou wou bewaar.

Sy het ‘n week later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

‘n Ingeligte bron het gesê die vermeende stryery tussen Tabisher en sy vrou het glo oor seks gegaan. Die bron het verder verklap dat die verdagte na bewering om middernag seks met sy vrou wou hê, maar sy het geweier, wat glo tot ‘n stryery gelei het.

Volgens ontstoke inwoners het Tabisher ná die aanval gevlug nadat hy sy skoonma na bewering twee keer met die byl oor die kop gekap het. Hy het glo later aangevoer iemand het daar ingebreek en dat die inbreker hulle aangeval het.

Tabisher is ongeveer twee kilometer van die toneel van die misdaad af onder ‘n bakkie gekry waar hy probeer wegkruip het. ‘n Betroubare bron het gesê hy is onder die bakkie uitgetrek en woedende bure en inwoners het hom toe glo “van sy eie medisyne” gevoer – met sy eie byl. Volgens die verdagte het hy ‘n plaat in sy arm en ‘n plaat in sy been en hy het aan die hof genoem hy het ook verskeie kopwonde opgedoen.

Volgens omstanders het die polisie net betyds opgedaag om sy lewe te red.

Ello Hendricks, die ondersoekbeampte, by die hof.
Ello Hendricks, die ondersoekbeampte, by die hof.

Die verdagte het in sy eie getuienis aangevoer dat hy verkeerdelik met die misdaad verbind word en sy vriend en buurman van die moord beskuldig. “Dit is hy wat my so aangerand het sodat ek nie die waarheid kan praat nie,” het Tabisher voorheen aan die hof gesê.

Hy het verduidelik dat inwoners van Pearl Mansion jaloers op hom is en daarom die skuld op hom pak.

Familie en vriende van die vermoorde Janet Jordan (67) van Pearl Mansion vra dat die verdagte nie borgtog moet kry nie.
Familie en vriende van die vermoorde Janet Jordan (67) van Pearl Mansion vra dat die verdagte nie borgtog moet kry nie. Foto: Murphy Roberts

Die staat het egter tydens kruisverhoor aangedui dat Tabisher sy getuienis aanpas om ander te beskuldig. Volgens die staat het minderjariges gesien hoe hy hul ouma met die byl aanval en terug die huis in probeer sleep.

Tabisher het egter teruggekap dat die ondersoekbeampte die kinders aangehits het om dit te noem. Hy het ook aan die hof genoem dat hy geen vorige oortredings het en ook geen hangende hofsake teen hom het nie. Die staat het egter weer eens benadruk dat Tabisher die hof probeer mislei en ongeveer 11 vorige oortredings genoem, waaronder moord en verkragting.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026

Gift this article