ATLANTIS – Moegamat “Ikie” Tabisher (35), wat vroeër vanjaar vermoedelik sy skoonma, Janet Jordan, met ’n byl aangeval en doodgeslaan het, is gister (Vrydag 15 Mei) borgtog in die Atlantis-landdroshof geweier.
Tabisher het in die hof in ’n rolstoel met ’n gips om sy been verskyn, nadat hy op 26 Januarie, die dag van die voorval, deur gemeenskapslede aangerand is.
Die landdros het in haar kort maar kragtige uitspraak gesê die verdagte verskyn op aanklagte van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, en het genoem dat beide klagte Skedule 5-oortredings is.

Die voorval het op 26 Januarie vanjaar plaasgevind. Tabisher is op 9 Februarie amptelik in hegtenis geneem en was onder polisiebewaking terwyl hy in die hospitaal herstel het.
Die landdros het gesê sy het die getuienis van Tabisher, sy moeder en die ondersoekbeampte deeglik oorweeg. “Die verdagte het volhard dat ’n derde party die aanvaller is.”
Die ondersoekbeampte het getuig dat Tabisher gesien en as die aanvaller uitgewys is, en dat sy eie kind hom as die aanvaller geïdentifiseer het. Die staat het ook bewys dat hulle ’n sterk prima facie-saak teen Tabisher het, het die landdros gesê.
Die landdros het op grond van die ondersoekbeampte se getuienis bevind dat die verdagte beslis ’n gevaar vir die gemeenskap inhou, en ook ’n gevaar vir homself is, aangesien lede van die gemeenskap reeds reg in eie hande geneem het.

Ten spyte van vertoë van die verdediging dat die verdagte nie met getuies of die klaer sal inmeng nie, het die landdros beklemtoon dat die staat bewys het daar is ’n patroon van geweldsmisdade en dat hy vrees inboesem, selfs onder sy eie familie.
Die hof het gehoor dat Tabisher reeds tien ander hangende sake teen hom het wat terugdateer tot 2015, insluitend aanklagte van onder meer verkragting, poging tot verkragting en kwaadwillige saakbeskadiging, terwyl hy ook in ’n aparte saak teregstaan waar hy daarvan beskuldig word dat hy sy oom vermoor het.
Die saak is uitgestel tot Dinsdag 2 Junie.







You must be logged in to post a comment.