Moegamat Tabisher (35) probeer steeds die hof oortuig dat hy borgtog moet kry nadat hy vroeër die jaar na bewering sy skoonma met ‘n byl doodgekap het.

Tabisher se ma het getuig dat sy net die beste vir haar kind wil hê en het aan die hof gesê sy kan haar kind beheer indien hy op borgtog vrygelaat word.
Volgens sers. Ello Hendricks, die ondersoekbeampte, is die verdagte se eie familie bang vir hom. Volgens Hendricks het sy ma en pa vroeër aansoek vir beskermingsbevele teen hom probeer kry. Hendricks het in sy getuienis verlede week verduidelik die verdagte se familie vrees hom omdat byna sy hele familie sake teen hom aangemeld het, maar weer teruggetrek het.
Hendricks het ook getuig dat die gemeenskap in vrees gaan lewe indien hy borgtog kry en dat die verdagte se eie lewe ook in gevaar is omdat die gemeenskap hom reeds van sy eie medisyne gegee het. Die gesoute Hendricks het ook onder kruisondervraging by sy punt gestaan dat die verdagte ‘n gevaar vir homself en die gemeenskap is.
Volgens Hendricks sal hy net tevrede wees indien die verdagte onder huisarres is en tydig of ontydig deur korrektiewe beamptes besoek word. Hy het egter getuig dat so ‘n proses dalk ses maande of langer kan neem om aansoek te doen en sê die verdagte moet self aansoek doen.
Janet Jordan (67) van Pearl Mansion is op 26 Januarie na bewering wreed deur haar skoonseun met ‘n byl aangeval nadat sy net die vrede wou bewaar en het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Volgens ‘n betroubare bron het die bakleiery oor seks gegaan. Die bron het verklap dat die verdagte in die middernagtelike ure seks met sy vrou wou hê en sy het geweier, wat tot ‘n stryery gelei het. Ouma Janet het soos gewoonlik die vrede probeer hou, maar is glo deur haar skoonseun met ‘n byl aangeval.
Volgens ontstoke inwoners het “die gemors” glo ná die voorval gevlug nadat hy aangevoer het iemand het ingebreek en die inbreker het hulle aangeval. Hy is ongeveer twee kilometer van die toneel af onder ‘n bakkie gekry, waar hy weggekruip het. Woedende bure het hom glo onder die bakkie uitgetrek en hom van “sy eie medisyne” met sy byl gevoer. Tabisher het ernstige beserings oor sy hele liggaam opgedoen en die polisie het glo net betyds opgedaag om sy lewe te red.
Jordan het meer as ‘n week later in die hospitaal beswyk. Tabisher was terselfdertyd onder polisiebewaring in die hospitaal. Die borgtogaansoek is tot 6 Mei uitgestel.




