ATLANTIS – ‘n 41-jarige vermeende reeksmoordenaar en -verkragter het Woensdag 14 Oktober in die landdroshof op drie aanklagte van moord en verkragting verskyn.
Sebastian “Basie” Douman word daarvan beskuldig dat hy drie vroue tussen 2016 en 2021 verkrag en vermoor het.
Volgens kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, is Douman onlangs in die Kaapse middestad aangekeer tydens ’n operasie onder leiding van kapt. Rodney Roos en sy span.
Douman word daarvan verdink dat hy in die eerste voorval, in Mei 2016, die 21-jarige Megan Apollis in sy Wendyhuis in Sherwoodpark verkrag en versmoor het. Hy het na bewering haar lyk onder sy bed versteek.
Op Donderdag 4 Maart 2021, is Alzean Thomas se naakte lyk agter die Hartebeeskraal-veeldoelige sentrum (die Thusong-sentrum) ontdek. Forensiese getuienis verbind Douman moontlik met dié moord.
Die derde voorval het in September 2021 plaasgevind. Die 21-jarige Lameez Dillman se halfnaakte lyk is op Donderdagoggend 23 September omstreeks 06:30 deur haar pa in lang, digte gras op ’n oop stuk veld naby hul huis in Sherwoodpark ontdek.
Dillman is die vorige dag as vermis aangemeld nadat sy verdwyn het. Haar pa het destyds aan WeskusNuus gesê hy het die veld weer ʼn keer gaan deursoek voordat hy werk toe is, en toe op haar liggaam afgekom. Die staat voer aan dat hul bewyse Douman ook met dié moord verbind.
Munro het bevestig dat die slagoffers eers verkrag is voordat hulle vermoor is. Sy het beklemtoon dat daar moontlik nog sake bygevoeg kan word , soos wat die ondersoek vorder.
Inwoners en vriende van die oorledenes het intussen hul verligting oor die inhegtenisname op sosiale media uitgespreek. Van die boodskappe beklemtoon hulle vreugde oor Douman se inhegtenisneming omdat hulle gevrees het die saak net ʼn onopgelosde “cold case” sou bly.
Gelukwensing aan Roos en die ondersoekspan het ook ingestroom.
Douman het in die hof aangedui dat hy sy eie prokureur gaan aanstel om sy saak te verdedig.
Die hof het die saak tot Dinsdag 20 Oktober uitgestel sodat Douman se prokureur formeel op rekord geplaas kan word en die hof kan besluit of sy geestestoestand geëvalueer moet word om te bepaal of hy geskik is om verhoor te word.
Die verdagte bly intussen in aanhouding tot sy volgende verskyning.
LEES OOK: Vermeende reeksmoordenaar vas oor moord van drie Atlantis-vroue




