ATLANTIS – Die grusame dood van drie vroue in Sherwoodpark en die naburige omgewing tussen Mei 2016 en September 2021 het destyds groot kommer onder inwoners veroorsaak.
Daar is op Meagan Apollis (21) en Lameez Dillman (21) asook dié van ‘n onbekende vrou se naak lyke afgekom en dit was duidelik dat hulle onder traumatiese omstandighede gesterf het. WeskusNuus het in al drie gevalle daaroor berig.
Volgens kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, is ’n 41-jarige man wat moontlik met al drie moorde verbind kan word, onlangs onder leiding van kapt. Rodney Roos en sy span in die strate van die Kaapse middestad aangekeer.
Die verdagte verskyn vandag (Woensdag 14 September) in die Atlantis-landdroshof op drie aanklagte van moord en verkragting. Die inhegtenisneming bring nuwe hoop dat antwoorde gevind kan word oor die drie vroue se dood.
Munro het bevestig dat moontlik verdere aanklagte bygevoeg kan word namate die ondersoek vorder en nuwe bewyse na vore kom.

Vroue se dood vir lank ‘n raaisel
Apollis se naak lyk is op Saterdagoggend 21 Mei 2016 onder ’n bed in ’n Wendyhuis in Sherwoodpark ontdek. Volgens berigte het ’n toe 31-jarige man, wat in die Wendyhuis gewoon het, langs die oorledene se liggaam in die bed gelê toe die polisie daar aankom.
Die man is na die Atlantis-polisiestasie geneem vir ondervraging en is later van moord en verkragting aangekla, maar is weer vrygelaat weens ‘n gebrek aan bewyse. ’n Nadoodse ondersoek het bevestig dat Apollis verkrag en versmoor is.
Familie en vriende het haar as ’n stil en skaam jong vrou beskryf wat nie verdien het om op so ’n wrede manier te sterf nie.
Op Donderdag 4 Maart 2021 word nog ‘n naak vroueliggaam agter die Hartebeeskraal-veeldoelige sentrum (die Thusong-sentrum) ontdek. Die vrou, wie se identiteit steeds nie bekend is nie, is vermoedelik in haar dertigs.
Volgens kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, kon die nadoodse ondersoek aanvanklik nie die oorsaak van haar dood bepaal nie, aangesien daar geen ooglopende beserings aan haar liggaam was nie. Daar kon ook nie bepaal word of sy, soos die ander, verkrag is nie. Die polisie het verskeie toetse gedoen om haar identiteit vas te stel en ’n voorlopige moorddossier is geopen. Munro het ook verskeie gerugte wat op sosiale media versprei is, as onwaar afgemaak. Geen verdagte was op daardie stadium aangekeer nie.
Die derde voorval het in September 2021 plaasgevind toe Lameez Dillman, ook 21 jaar oud, se halfnaak liggaam is op Donderdagoggend 23 September omstreeks 06:30 deur haar pa in lang, digte gras op ’n oop stuk veld naby hul huis ontdek is.

Dillman is die vorige dag al as vermis aangemeld nadat sy net verdwyn het. Haar pa het daardie tyd aan WeskusNuus gesê dat hy die veld weer deursoek het voordat hy werk toe is, en toe haar lyk ontdek het. Familie en bure het agterna gesê hulle vermoed dat sy na die plek gesleep is.
Die polisie kon aanvanklik nie die oorsaak van haar dood bevestig nie, en bewerings van verkragting is ondersoek. ’n Man wat laaste saam met haar gesien is, is vir ondervraging na die polisiestasie geneem en later vrygelaat terwyl daar op forensiese uitslae gewag is.
LEES OOK: Twee tronk toe ná 2020-moord




You must be logged in to post a comment.