Beverley Mohalie, Denise se skoonsuster, troos die ontroosbare Deronice Baadjies, Denise se dogter, kort nadat haar ma doodgskiet is. Foto’s: Murphy Roberts

Murphy Roberts

Twee beskuldigdes in ‘n moordsaak is Vrydag 17 Mei in die Malmesbury-streekhof tot swaar tronkstraf gevonnis.

Medwin Johnson, wat in 2020 tydens die moord op die 36-jarige Enrico Peterson naby Dellville-hof in Sherwoodpark 27 jaar oud was, is lewenslange tronkstraf opgelê terwyl sy medebeskuldigde, wat toe net 14 jaar oud was, tot 10 jaar tronkstraf gevonnis is.

Die minderjarige, wat nou 18 jaar oud is, is destyds as minderjarige op waarskuwing vrygelaat, maar is weer aangekeer nadat hy met nog ‘n moord – die keer op die eerste slagoffer se tante, Denise Baadjies (60) – verbind is.

Hy is sedert die tweede moord in aanhouding. Baadjies is op 2 Januarie 2022 in Sherwoodpark koelbloedig doodgeskiet en het op die toneel aan haar wonde beswyk.

Geskokte familie en vriende kon nie glo die vredeliewende ouma is so wreed van hulle weggeruk nie en wonder steeds hoekom haar moordenaars dit gedoen het.

Volgens Denise se neef Denvil Petersen, wat skuins oorkant haar in Sherwoodpark gewoon het, het twee “skollies” die aand by sy huis aangekom en hy het die een herken as een van sy seun se moordenaars. Hy het destyds vertel sy seun is net langer as ‘n jaar voor die moord op sy niggie doodgeskiet en sedertdien het die moordenaars sy

familie getreiter. “Ek het die gemorste uit my jaart gejaag terwyl hulle gedreig het hulle gaan my familie vrekskiet,” het hy vertel. “Ek het hulle gejaag en in die volgende pad het nog drie gewag en hulle het vier skote op my geskiet, maar gemis.”

Denise se buurvrou, Marchelle van Niekerk, het vertel dat hulle heeldag by haar gekuier het toe Denise die aand besluit het om sigarette in die volgende straat te gaan koop. Dit is toe sy op die drama met haar neef afgekom het.

Volgens Denvil het sy niggie reg voor hom ingestap met haar hande in die lug en gebid dat die skietery moet ophou, toe die skieters op haar ook losgebrand het en haar noodlottig gewond het. Volgens Denvil was dit vir hom bedoel, want die skieters het geskree “skiet hom ook vrek”, maar die moordenaars het die hasepad gekies. Hulle het glo probeer om terug te kom “om die job te finish”, maar daar was te veel mense op die toneel, het Denvil ná die gebeure vertel.

‘n Emosionele Deronice Baadjies, Denise se dogter, het vertel dat haar ma nie gewis het dat wat met haar gebeur het nie. “Sy het net omgegee vir mense en was ‘n regte mense-mens wat gedurig die jongspan aangemoedig het om iets van hul lewe te maak.”

• Die 18-jarige staan saam met nog ‘n man (36) op dié moord tereg.

Die hofsaak duur voort.

Denvil Petersen wys waar die skieters sy biddende niggie doodgeskiet het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article