ATLANTIS – Die vraag oor wat presies onlangs met ‘n broer en suster gebeur het, bly op baie Atlantis-inwoners se lippe ná die inhegtenisneming van ‘n 37-jarige vrou, wat haar twee biologiese kinders na bewering seksueel misbruik het.
Die vrou het Maandag 28 September in die Atlantis-landdroshof verskyn, waar sy ‘n formele borgtogaansoek sou indien. Sy staan tereg op vier aanklagte van huishoudelike verkragting.
Volgens die bewerings het sy haar 10-jarige dogter twee keer en haar 8-jarige seun ook twee keer verkrag.
Die beskuldigde se identiteit kan nie bekend gemaak word nie, aangesien dit die identiteit van die minderjarige klaers kan openbaar en hulle aan verdere trauma kan blootstel.
Allister Lightburn van die Atlantis-subraad het sy skok oor die saak uitgespreek. “ ’n Moeder behoort die primêre versorger en beskermer van haar kinders te wees.
“Dit is ‘n hartseer toedrag van sake wanneer ‘n moeder daarvan beskuldig word dat sy sulke ernstige misdade teen haar eie kinders gepleeg het,” het Lightburn gesê.
Hy het beklemtoon dat die reg sy loop moet neem.
Janine Passenz van die plaaslike Survivors Haven Foundation, wat op geslagsgeweld (GBV) en jeugontwikkeling fokus, sê die saak is onder die organisasie se aandag gebring. “Die regstelsel moet sy loop neem indien die bewerings waar is.
“Ons moet ons mees kwesbare kinders beskerm en seker maak dat hulle die nodige ondersteuning van die betrokke departemente ontvang,” het Passenz gesê.
Sy het ook ‘n beroep gedoen dat die hofverrigtinge, waar toepaslik, in camera (agter geslote deure) gehou word om die minderjarige klaers te beskerm.
Passenz het inwoners terselfdertyd gewaarsku om nie besonderhede oor sake van dié aard op sosiale media te versprei nie. “Ons gemeenskap moet gebruik maak van al die hulpbronne tot ons beskikking om die stryd teen geslagsgeweld te versterk,” het sy gesê.





