ATLANTIS – Die People’s Process het vandeesweek hul memorandum en petisie met byna 15 000 handtekeninge aan die bestuur van subraad 1 oorhandig.
Volgens die memorandum moet die verkoop van die historiese Hartebeeskraal Thusong-sentrum teengestaan word.
Die groep eis dat hul besware formeel op rekord geplaas word, dat die voorgestelde proses gestaak word en dat korrektiewe bestuur- en remediërende stappe oorweeg word eerder as om die gebou te verkoop.
Hulle vra ook dat die openbare bate, wat bedoel is vir maatskaplike ontwikkeling en dienslewering, beskerm moet word.
Volgens die memorandum, wat Theunis Mack die afgelope Donderdag (19 Februarie) voorgelees het, is die Thusong-sentrum lank reeds deur die gemeenskap waardeer as ‘n sentrale en toeganklike punt vir noodsaaklike regeringsdienste – veral vir inwoners wat staatmaak op openbare vervoer en maatskaplike bystand, en vir diegene wat weens ouderdom, inkomste of gestremdheid van toeganklike dienste afhanklik is.
Die sentrum het kritieke openbare dienste soos Binnelandse Sake, Sassa en ander maatskaplike en arbeidsverwante dienste gehuisves, wat dit vir inwoners moontlik
gemaak het om verskeie regeringsfunksies op of naby een plek te verkry. Hierdie model verminder aansienlik die koste, tyd en administratiewe las wat op reeds kwesbare huishoudings geplaas word.
Die onlangse ontwrigting en effektiewe verwydering van die dienste van Binnelandse Sake uit die Thusong-sentrum het wydverspreide verwarring veroorsaak.
Dienste wat voorheen vyf dae per week beskikbaar was, is verminder tot beperkte beskikbaarheid – soms so min as twee dae per week.
Die afgelope paar weke kon inwoners nie duidelike, bestendige inligting oor wanneer of waar die binnelandsesake-dienste bedryf word, verkry nie.
Dit is een maar een van die griewe. Nog een is dat inwoners in lang rye moet staan terwyl hulle onseker is of die spesifieke diens waarvoor hulle wag, wel gelewer sal word. Die groep braak ook gal daaroor dat bejaardes en ander wat heeltemal van die dienste afhanklik is, dikwels tevergeefs opdaag, wat verdere finansiële druk op hulle plaas.
Volgens Allison Adams, ‘n woordvoerder
vir die People’s Process, het inwoners in Desember verlede jaar begin om die verkoop van die historiese gebou teen te staan. Volgens Adams is die doel van hul veldtog om te verseker dat die sentrum ‘n openbare bate vir die huidige en toekomstige geslagte bly.
Die People’s Process het raadslede versoek om skriftelike terugvoer binne 14 dae te gee.
Volgens Allister Lightburn, die voorsitter van subraad 1, sal die memorandum na die Stad Kaapstad se afdeling vir openbare deelname verwys word.




