ATLANTIS – Inwoners van Atlantis verdien beter, is inwoners se gevoel oor gerugte dat die Thusong- veeldoelige sentrum verkoop gaan word.
Die afgelope paar dae het inwoners hul ongelukkigheid oor die swak dienste van die nasionale departement van binnelandse Sake op sosiale media gedeel.
Die departement se huurooreenkoms het onlangs met die Stad Kaapstad verval en is nie hernu nie, aangesien daar bespiegel word dat die Stad Kaapstad beplan om die gebou te verkoop.

Die departement se mobiele eenheid is tans ook onder die vergrootglas nadat inwoners op Dinsdag 3 Januarie voor dooiemansdeur opgedaag het.
Volgens Allister Lightburn, die subraad-1-voorsitter, ondergaan die Saxonsea-gemeenskapsaal tans opgraderings. Hy het voorgestel dat die eenheid na die Avondale-saal skuif.
“Dit is ongelukkig die beste wat ons tans kan doen. Die departement moet self besluit of hulle skuif,” sê hy.
Inwoners is kwaad omdat geen kennis vooraf gegee is dat dit sou gebeur nie. Duisende inwoners het aanvaar dienste sou steeds by Saxonsea beskikbaar wees.




