Theunis Mack oorhandig die memorandum aan die subraad 1-voorsitter Allister Lightburn. Foto: Murphy Roberts

Nog geen terugvoer oor Thusong

Theunis Mack oorhandig die memorandum aan die subraad 1-voorsitter Allister Lightburn. Foto: Murphy Roberts

Die gemeenskap van Atlantis, Mamre, Pella en Witsand wag steeds op terugvoer van die Stad Kaapstad oor hul memorandum teen die beplande verkoop van erf 8813, waar die Thusong-sentrum geleë is.

Volgens die People’s Process is die memorandum reeds weke gelede deur subraad 1 na die Stad Kaapstad gestuur. Die People’s Process is egter gefrustreerd omdat die dokument nog nie die korrekte afdeling bereik het nie.

Volgens die Stad is die petisiebestuur nie in die oorspronklike e-pos ingesluit nie. Die nasionale petisiekantoor het ook gevra vir bewys dat die saak eers met die Stad Kaapstad opgeneem is, asook enige terugvoer van die Stad. Volgens die People’s Process is die gemeenskap besig om hierdie inligting in te dien.

Die groep het intussen die saak na nasionale vlak geneem en die volledige voorlegging is aan die Nasionale Vergadering en parlementslede gestuur.

Dit sluit in die memorandum van 19 Februarie met meer as 15 000 handtekeninge van inwoners wat die verkoop teenstaan en meer as 1 000 e-posse wat aan subraad 1 gestuur is.

Hulle het ook dokumente ingedien wat die geskiedenis van erf  8813 en vorige besluite daaroor uiteensit, asook die kennisgewing van hersonering. Hulle glo ook die bespreking op subraadvlak was nie genoegsaam nie en sê die gemeenskap is nie behoorlik gekonsulteer nie.

“Ons glo geen besluite moet geneem word sonder die gemeenskap se insette nie,” het ‘n verteenwoordiger gesê.

Die Kantoor van die Speaker het reeds ontvangs van die voorlegging bevestig en sommige parlementslede het dit verder versprei. Hulle het egter versoek dat dit weer gestuur word nadat sekere e-posse nie afgelewer is nie.

Dieselfde klagte is ook reeds aan die Openbare Beskermer gestuur, maar geen reaksie is nog ontvang nie, het die People’s Process bevestig.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026

Gift this article