Inwoners van Atlantis is woedend omdat die Stad Kaapstad beplan om die Thusong-sentrum te verkoop.
Die plan het ook veroorsaak dat die departement van binnelandse sake se huurooreenkoms nie hernu word nie, met die gevolg dat inwoners nou op mobiele dienste moet staatmaak.
Volgens Allison Adams, woordvoerder van die People’s Process, het inwoners in Desember verlede jaar begin om die verkoop van die historiese gebou teen te staan (“Atlantis-inwoners staan saam vir Hartebeeskraal se Thusong-sentrum”, 14 Januarie 2026).
Volgens Adams het duisende inwoners reeds die petisie geteken en ongeveer 1 000 e-posse is aan subraad 1 gestuur om die verkoop te stop.
Sy beklemtoon dat die People’s Process nie ‘n politieke beweging is nie, hoewel verskillende politieke leiers van die dorp die proses ondersteun.
“Inwoners besluit self watter stappe gevolg moet word,” verduidelik sy.
Adams beklemtoon ook dat enige aksie aan inwoners behoort en dat daar nie ‘n komitee is wat besluite neem sonder dat die inwoners daarvan weet nie.
Die hoofdoel is om te verseker dat die Stad nie voortgaan met die planne om die gebou te verkoop nie.
Volgens Allister Lightburn, die voorsitter van subraad 1, is die gebou nog nie verkoop nie en nog baie water moet onder deur die brug loop voordat dit kan gebeur.
“Wat egter nie vergeet moet word nie, is dat openbare deelname deel moet wees voordat ‘n finale besluit geneem word.”
Adams meen die veldtog se doel is om te verseker dat die sentrum ‘n openbare bate vir huidige en toekomstige generasies bly.
Verskeie politieke partye het ook ingespring om die verkoop stop te sit.
Volgens Adams het die People’s Process ook ‘n klagte by die openbare beskermer ingedien.
Voldoende bewyse bestaan dat die Stad “die gemeenskap gefaal het”.
‘n Brief is reeds aan hoofswepe van verskillende politieke partye in die raad gestuur om die verkoop te stuit.
Die groep wil, indien nodig, ook regsadvies inwin.




