Die Thusong-sentrum in Atlantis is ‘n stap nader om sy rol as belangrike dienspunt vir die gemeenskap voort te sit nadat die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering ‘n beginselooreenkoms oor die oordrag van die eiendom bereik het.
Die drama rakende die moontlike verkoop van die die sentrum het die dorp sedert laat verlede jaar in rep en roer gehad en verskeie politieke partye en gemeenskapsorganisasies het die stem behoorlik dik gemaak oor die Stad se plan om dit te verkoop.
Met meer as 15 000 handtekeninge en petisies teen die verkoop van die sentrum het die Stad besluit om nie die kontrak van binnelandse sake te hernu nie, wat dienslewering ontwrig het.
Ingevolge die voorgestelde ooreenkoms sal die Stad die perseel aan die Wes-Kaapse regering skenk. Die provinsiale regering sal dan verantwoordelik wees vir die eienaarskap, bestuur en instandhouding van die sentrum.
Die Thusong-sentrum bied reeds jare lank ‘n verskeidenheid staats- en maatskaplike dienste aan inwoners van Atlantis en omliggende gebiede.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling sal sy dienste uit die sentrum lewer en Sassa sal ook steeds dienste uit die gebou lewer terwyl die gebou as ‘n openbare gerief vir die gemeenskap behoue bly.
Volgens die Stad sal die voorgestelde oordrag die langtermyn-volhoubaarheid van die sentrum versterk, toegang tot noodsaaklike dienste beskerm en die uitbreiding van maatskaplike ontwikkelingsprogramme moontlik maak.
Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei en toerisme, James Vos, sê die besluit is daarop gemik om die sentrum se openbare doel te beskerm.
Fokus op dienslewering
“Ons fokus was nog altyd om te verseker dat die Thusong-sentrum in Atlantis die gemeenskap bly dien. Hierdie ooreenkoms bied die geleentheid om noodsaaklike dienste te beskerm en verder uit te brei,” het hy gesê.
Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, sê die sentrum vervul ‘n belangrike rol om inwoners tot noodsaaklike dienste toegang te gee.
Sy departement is volgens hom daartoe verbind om die geriewe vir die langtermyn te onderhou en te bewaar.
Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Jaco Londt, sê inwoners het tydens ‘n onlangse besoek deur die premier en die Stad se burgemeester aangedui dat beter toegang tot staatsdienste nodig is. “Hierdie ooreenkoms is ‘n regstreekse reaksie op daardie behoefte en sal verseker dat inwoners steeds toegang het tot die ondersteuning en dienste wat hulle benodig,” het Londt gesê.
Die voorgestelde oordrag het reeds die steun van die betrokke subraad ontvang en sal nou die nodige administratiewe en wetlike goedkeuringsprosesse deurloop voordat dit afgehandel kan word.
Hoewel openbare deelname nie vir die oordrag van eiendom tussen staatsorgane vereis word nie, het die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering onderneem om die gemeenskap op hoogte van die proses te hou.
Indien die oordrag goedgekeur word, sal die Atlantis-Thusong-sentrum steeds as ‘n sentrale punt vir staats- en maatskaplike dienste funksioneer en sy rol as belangrike gemeenskapsfasiliteit voortsit.





