Gavin Passens, ‘n oud-Springbokspeler, en sy afrigtingspan saam met jong rugbyspelers by die Hoërskool Robinvale, waar hulle ‘n verlede Dinsdag (4 Augustus) ‘n rugbykliniek aangebied het. Foto: David Rossouw

Sport bemagtig nie net op die veld nie, maar in die lewe ook

Gavin Passens, ‘n oud-Springbokspeler, en sy afrigtingspan saam met jong rugbyspelers by die Hoërskool Robinvale, waar hulle ‘n verlede Dinsdag (4 Augustus) ‘n rugbykliniek aangebied het. Foto: David Rossouw

Die oud-Springbok Gavin Passens het onlangs ‘n groot stap geneem om die toekoms van jong sporttalent in die Wes–Kaap te verander. Hy het met die totstandkoming van die Gavin Passens-­stigting sy aandag op die ontwikkeling van jong atlete uit gemeenskappe soos Atlantis, Mamre, Pella en Witsand, waar geleenthede dikwels beperk is, gefokus.

Die stigting werk saam met gemeen­skapsorganisasies soos Recreation Activities SA sowel as verskeie NPO’s en NGO’s om ‘n platform te skep waar talent­volle jong mense die kans kry om hul vaardighede te slyp en hul sportloopbane te bou. Hierdie samewerking is daarop gemik om die gaping tussen ­potensiaal­ en geleentheid te oorbrug en om jong atlete, wat andersins ongesiens sou bly, die kans te gee om hul volle vermoë te bereik.

Passens – self ‘n produk van harde werk en deursettingsvermoë – verstaan die uitdagings wat jong spelers in afgeleë en minderbevoorregte gemeenskappe ervaar. Sy visie is om nie net sportvaardighede te ontwikkel nie, maar ook om dissipline, spanwerk en gemeenskapsgees te bevorder. Die projek is ‘n belegging in die jeug en ‘n bewys dat sport ‘n kragtige instrument kan wees om hoop en geleenthede te bring.

Soos oud-president Nelson Mandela eens gesê het: “Sport het die krag om die wêreld te verander. Dit het die krag om te inspireer. Dit het die krag om mense te verenig op ‘n manier wat min ander dinge kan doen.” Hierdie woorde vind sterk weerklank met die missie van die Gavin Passens-stigting, wat daarop ge­mik is om jong talent nie net op die veld nie, maar ook in die lewe te bemagtig.

Die Gavin Passens-stigting se eerste programme behels opleidingsessies, mentorskap en strukture waar jong talent kan floreer. Met die ondersteuning van plaaslike organisasies en die gemeenskap self, is dit duidelik dat hierdie inisiatief ‘n nuwe era vir sportontwikkeling in die streek kan inlui.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026

Gift this article