Ryan Johnson, die skrumskakel van Proteus, druk hul tweede drie teen die Hoërskool Atlantis in ‘n skolerugbywedstryd van Atlantis-skole. Foto: David Rossouw

Proteus wen gemaklik

Ryan Johnson, die skrumskakel van Proteus, druk hul tweede drie teen die Hoërskool Atlantis in ‘n skolerugbywedstryd van Atlantis-skole. Foto: David Rossouw

Atlantis SSS en die Hoërskool Proteus Tegnies se o.19-rugbyspanne het mekaar verlede Dinsdag (4 Augustus) in ‘n Atlantis-skolekompetisie op die Proteapark-sportterrein gepak. Proteus het vroeg al sy stempel in die vaste- en losskrums afgedruk toe hulle ‘n vaskop- en drie agtereenvolgende los­skrums­ bemeester het, wat tot Ryan Jacobs (slot) se drie onder die pale gelei het. Wayne Johnson, die heelagter, het geen fout met doelskop gemaak nie en Proteus 7-0 laat voorloop.

‘n Paar minute later het Wayne Johnson (Pro­teus se heelagter) ‘n hoë bal bemeester en ná twee goeie breekslae op Atlantis se kwartlyn vir Ashwin Sambaba gevind, wat onder die pale afgerond het. Wayne Johnson was weer in die kol (telling 14-0). Dit was nie lank nie of sy tweelingbroer, Ryan, het om die skrum gebreek en sy agterlyn gevoer. Toe dit lyk of Sambaba nie die doellyn gaan haal nie, het hy Ryan Johnson gevoer, wat soos ‘n vleuel genael en met drie Atlantis-verde­­digers op sy rug oor die doellyn geval het. Wayne Johnson se korrel was dié keer skeef (telling 19-0).

Proteus het weer toegeslaan, maar die skeidsregter het beslis Atlantis het obstruksie gepleeg en ‘n strafskop aan Proteus toegeken. Nadat Ryan Johnson ‘n tikskop ge­neem en sy agterlyn tot by Sambaba ge­voer­ en ‘n skêrbeweging uitgevoer het het Wayne Johnson, wat vanaf die heelagter­posisie op die linker­vleuel-posisie ingesny en in die linkerhoek afgerond. Sy korrel na die pale was weer mis (24-0).

Twee agtereenvolgende strafskoppe het Ryan Johnson weer geleentheid met ‘n tikskop gegee. Die glibberige Sambaba het weer sy vaart deur die middelveld gewys en agter die pale gedruk en Wayne Johnson het twee punte bygevoeg – telling 31-0 teen rustyd.

Atlantis het Proteus egter ná die afskop vir die tweede helfte met goeie voorspeler­spel verras toe hulle die inskop bemeester en ‘n strafskop gewen het. Hulle het ‘n tikskoppie geneem, wat onder die pale tot hul eerste en enigste drie gelei het (31-7).

Proteus het teruggeslaan met ‘n volle agterlynbeweging van hul kwartlyn af, met Sambaba wat weer eens Atlantis se middelveld geskeur en tot op die 10m-stippellyn gevorder het voordat hy Yagheya Pokwas teen die kantlyn gevind het, wat voet neergesit het doellyn toe. Hy is egter vyf meter voor die doellyn gekeer, maar Sambaba aan sy binnekant gevind, wat in die regterkantse hoek oorgeval het. Wayne Johnson se doelskop was mis (telling 36-7).

Met vars bene van die bank af het Proteus die tempo gelig, wat tot nog drie drieë deur Giano Hess (2) en Trustin van Tonder gelei het, met die eindteling ‘n fris 51-7.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026

Gift this article