Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) herinner ouers en voogde dat die aansoektydperk vir skooloorplasings vir leerders in grade 2 tot 7 en grade 9 tot 12 nou oop is.
Aansoeke vir oorplasings vir die 2027-skooljaar kan van 3 tot 17 Augustus 2026 ingedien word.
Die WKOD sê die aansoekproses het vanjaar effens verander en ouers moet let op of hulle aanlyn moet aansoek doen en of hulle hul aansoek self by die skool moet indien.
Aanlyn aansoeke is slegs beskikbaar vir leerders wat aan spesifieke vereistes voldoen. Dit sluit in wanneer ‘n leerder die hoogste graad by sy of haar huidige skool voltooi het, wanneer ‘n ouer of voog weens werk na ‘n ander gebied verhuis het, of wanneer die gesin se woonadres andersins verander het.
Ouers wat nie aan dié vereistes voldoen nie, maar hul kind bloot na ‘n ander skool wil oorplaas, moet ‘n papieraansoek persoonlik by die skool van hul keuse indien.
Papieraansoeke is ook verpligtend in gevalle waar gedokumenteerde veiligheids- of kwesbaarheidskwessies is, waar ‘n leerder toegang tot spesifieke mediese of sielkundige behandeling benodig, of waar die leerder onder die sorg van die staat is.
Oorplasingsvorms is op die WKOD se toelatingswebwerf asook by skole en distrikskantore beskikbaar.
Ouers moet die leerder se jongste skoolrapport, ‘n geldige identiteitsdokument of geboortesertifikaat (of ander toepaslike dokumentasie), asook bewys van woonadres of ‘n beëdigde verklaring indien.
Die WKOD het ook bevestig dat skole tans besig is om toelatingslyste vir graad R, graad 1 en graad 8 vir die 2027-skooljaar af te handel.
Ouers wat nog nie vir leerders in dié grade aansoek gedoen het nie, word aangemoedig om hul distrikskantoor so gou as moontlik vir hulp te kontak, aangesien die aanlyn toelatingsplatform vir dié aansoeke reeds gesluit het.
Nog inligting is op die WKOD se toe-latingswebwerf of by die toelatingshulplyn by 0861 819 919 (kies opsie 1) beskikbaar.




