Inwoners van Beaconhill is keelvol vir die tikkoppe in die gebied en gaan nou self inspring om hul gebied veiliger te maak.

Mense in Atlantis is ‘keelvol vir misdaad’

Inwoners van Beaconhill is keelvol vir die tikkoppe in die gebied en gaan nou self inspring om hul gebied veiliger te maak.

ATLANTIS – Inwoners van Beaconhill het nou self ‘n standpunt teen misdaad ingeneem nadat hulle tydens ‘n gemeenskapsvergadering besluit het om hul samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) te versterk.

Die misdaadbewusmakingsvergadering is by ‘n woning in Darling-singel gehou, waar inwoners hul kommer uitgespreek het oor toenemende misdaad en maniere bespreek het om die veiligheid in hul woonbuurt te verbeter.

AO Denver Abrahams, die sektorbevelvoerder vir Beaconhill, en Glodene Smith, ‘n GPF-verteenwoordiger, het die vergadering bygewoon en inwoners aangemoedig om nou saam met die polisie en bestaande veiligheidsstrukture te werk.

Ashley Poole, 'n gemeenskapleier, het bevestig hulle weet nou wie die skurke is wat inwoners van Beacon-Hill treiter.
Ashley Poole, ‘n gemeenskapleier, het bevestig hulle weet nou wie die skurke is wat inwoners van Beacon-Hill treiter. Foto’s: Murphy Roberts.

Verskeie inwoners het hul frustrasie uitgespreek oor stadige reaksietye wanneer misdaad aangemeld word, probleme om die Atlantis-polisiekantoor se landlyn­nommers te bereik en ‘n tekort aan sigbare polisiëring in sekere dele van die woonbuurt.

Kabeldiefstal bly volgens inwoners een van die grootste probleme in Beaconhill.

Kommer is ook uitgespreek oor groepe wat gereeld op die oop terrein tussen Aventineweg, Castlehill en Carltonweg bymekaarkom, asook beweerde dwelmhandel in Beekberg-singel.

Abrahams het gesê misdaad kan slegs suksesvol bekamp word indien die gemeenskap en die polisie saamwerk.

“Polisiebeamptes moet passie vir hul werk hê en die bekamping van misdaad is nie net die verantwoordelikheid van die polisie nie, maar elke inwoner het ‘n rol om te speel om ‘n veiliger omgewing te skep,” het Abrahams bygevoeg.

Die skuilplek waar skurke wegkruip
Die skuilplek waar skurke wegkruip en ook vermoedelik gesteelde goed versteek is en wat deur die polisie aan inwoners uitgewys is.

Kontakbesonderhede is tydens die vergadering tussen polisie, GPF-verteenwoordigers en inwoners uitgeruil om kommunikasie te verbeter en voorvalle vinniger aan te meld.

Die Beaconhill-buurtwag word intussen met die ondersteuning van die GPF gevestig. Opleiding sal aan lede gebied word om hulle vertroud te maak met hul verantwoordelikhede, die wetlike raamwerk waarbinne hulle moet optree en hoe om doeltreffend saam met die polisie te werk, het Smith gese.

Inwoners het ook kennis geneem van onlangse suksesse deur die polisie, soos die inhegtenisneming van ‘n ver­dagte wat met kabeldiefstal verbind word, asook optrede teen ‘n skuilplek naby Lucas Run waar dwelms en vermoedelik gesteelde goedere glo versteek is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition -29 September 2026
    WeskusNuus E-Edition -29 September 2026

Gift this article