Slegs ‘n handjievol inwoners het die Imbizo bygewoon, wat kommerwekkend is, het Peter Stoffberg verduidelik. Foto: Murphy Roberts

Ver te min mense by imbizo, maar kry nie vrae gevra nie

Slegs ‘n handjievol inwoners het die Imbizo bygewoon, wat kommerwekkend is, het Peter Stoffberg verduidelik. Foto: Murphy Roberts

‘n Gemeenskapsimbizo, wat deur die Atlantis-polisie gereël is en spesifiek op die jeug gemik was, is swak deur inwo­ners bygewoon nadat ‘n beplande provinsiale byeenkoms op kort kennisgewing afgegradeer is na ‘n plaasliketakvlak-­geleentheid.

Slegs plaaslike bevelvoerders, onder wie kol. Mario Thyse, lt.kol. Deon Jafte en kol. Theresa Reeves van die speureenheid, het die byeenkoms bygewoon nadat die provinsiale kantoor sy deelname gekanselleer het.

Die lae bywoning was ten spyte van inwoners se toenemende kommer oor bendegeweld en geweldsmisdaad in Atlantis. Herhaaldelike skietvoorvalle in Saxonsea, Sherwood Park en Pirate Town is onlangs aangemeld, terwyl die ontdekking van drie mans se lyke met skietwonde die gemeenskap geskok het.

Slegs ‘n handjievol vrae is tydens die imbizo aan polisiebestuur gerig.

Die gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg het ernstige kommer uitgespreek oor wat hy beskryf het as onprofessionele optrede deur sommige speurders wanneer hulle met slagoffers van misdaad werk. Hy het aangevoer swak ondersoeke in sommige gevalle dra daartoe by dat sake nie deur die hof vervolg word nie of later teruggetrek word.

Volgens Stoffberg het hy tydens hofsittings opgemerk dat tot agt sake per dag van die rol geskrap word omdat die dossiere nie daar is nie.

Stoffberg het ook verwys na ‘n onlangse moordsaak waarin drie beskuldigdes vrygelaat is nadat getuies glo nie vir die hofverrigtinge opgedaag het nie. Hy het aangevoer tekortkominge bestaan om te verseker dat getuies die verhoor bywoon.

Die moeder van een van die oorledenes was volgens hom ook by die imbizo, maar het nie die geleentheid gekry om haar bekommernisse te lug nie.

Stoffberg beweer ook twee speur­ders het hulle in afsonderlike sake onprofessioneel teenoor vroulike klaers gedra.

Hy het gesê hy is verhinder om dié bewerings volledig tydens die vergadering te bespreek.

Verskeie inwoners het ook hul kommer uitgespreek oor wat hulle as ‘n ­gebrek aan ‘n doeltreffende strategie beskou om bendegeweld hok te slaan.

Volgens hulle behoort groter klem geplaas te word op die ontwrigting van bendes se dwelm- en vuurwapennetwerke en die uitkenning van bendeleiers.

Inwoners het aangevoer die polisie reageer dikwels slegs op misdaad nadat dit plaasgevind het eerder as om proaktiewe optrede te neem om geweld te voorkom.

Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n polisie-­woordvoerder, kan sy bevestig dat ‘n klagte wel aangemeld is, waarna dit na die provinsiale kantoor verwys is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026

Gift this article