Hofsake | In Court
Hofsake | In Court

Nuwe hoop vir families na inhegtenisneming


Die inhegtenisneming van Sebastian Douman, beter bekend as “Basie”, het nuwe hoop gebring vir families en vriende van drie vroue wat tussen 2016 en 2021 in Atlantis vermoor en verkrag is.

Douman het op Woensdag 14 Oktober die eerste keer in die Atlantis-landdros­hof op drie aanklagte van moord en verkragting verskyn.

Hy bly in aanhouding en sy formele borgaansoek sal na verwagting op Maandag 26 Oktober begin.

Die sake hou verband met die vermeende reeksmoorde van Meagan Apollis (21), Alzean Thomas en Lameez Dillman (21). Die omstandighede rakende dié drie sterftes het destyds groot kommer in die gemeenskap veroorsaak.

Apollis se liggaam is in Mei 2016 in ‘n Wendyhuis in Sherwoodpark gevind. Volgens inligting oor die ondersoek is haar liggaam onder ‘n bed versteek. Haar dood het vrae oor moontlike verkragting en moord laat ontstaan, terwyl die saak aanvanklik sonder ‘n verdagte voortgesit is.

Op Donderdag 4 Maart 2021 is die naakte liggaam van ‘n onbekende vrou agter die Hartebeeskraal- veeldoelige sentrum ontdek. Die vrou is later as Alzean Thomas uitgeken.

Die derde voorval het in September dieselfde jaar plaasgevind toe Dillman verdwyn het. Haar halfnaakte liggaam is op Donderdag 23 September 2021 omstreeks 06:30 deur haar pa in lang, digte gras op ‘n oop stuk veld naby hul woning gevind. Sy is die vorige dag as vermis aangemeld.

Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n polisie­woordvoerder, het die ondersoek onthul al drie slagoffers is verkrag. Sy het ook bevestig dat verdere aanklagte moontlik bygevoeg kan word namate die ondersoek vorder.

Die inhegtenisneming het groot ­reaksie op sosiale media ontlok. Vriende en familielede van die oorledenes het hul verligting uitgespreek, terwyl sommige inwoners gevrees het dat die sake nooit opgelos sou word nie.

Lofbetuigings is ook aan die ondersoekspan onder leiding van kapt. Rodney Roos gerig vir hul werk om die sake verder te ondersoek.

Tydens sy hofverskyning het Douman aangedui dat hy ‘n private prokureur wil aanstel om hom te verdedig. Die saak is uitgestel om sy regsverteenwoordiger toe te laat om formeel op rekord te kom. ‘n Moontlike geestestoestand-evaluering is ook genoem om te bepaal of hy geskik is om verhoor te word.

Sy volgende hofverskyning word vir Maandag 26 Oktober verwag, wanneer die formele borgaansoek sal begin.

Die ondersoek duur voort.

Douman word as onskuldig beskou totdat hy skuldig bevind word. Vir die families en die Atlantis-gemeenskap bly die hoop dat die regsproses antwoorde en geregtigheid sal bring.

LEES OOK: Atlantis-gemeenskap pleit by polisie oor bendes

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026
    WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026

Gift this article