Inwoners van Atlantis het ‘n dringende beroep op die provinsiale polisiekommissaris gedoen om die stryd teen bendebedrywighede, dwelms, geweld en georganiseerde misdaad in die gemeenskap te versterk.
Inwoners sê in ‘n ope brief aan die provinsiale polisiekommissaris sê dat bendes al jare lank ‘n ernstige invloed op die lewe van gewone mense en gesinne het. Hulle meen dat kinders en jongmense veral kwesbaar is vir dwelms, geweld en misdadige invloed.
Die gemeenskap vra spesifiek dat luitenant-kolonel Joseph Marius Phillips, wat onlangs na Khayelitsha se speurtak bevorder is, oorweeg word vir ‘n terugkeer na die Atlantis-polisiekantoor as bevelvoerder van die speurtak. Die inwoners beklemtoon dat sodanige aanstelling aan die toepaslike polisieprosesse en bedryfsvereistes onderhewig moet wees.
Volgens Peter Stoffberg van die groep #Piemphulle, wat die proses dryf, is Phillips se vorige ervaring met ernstige en komplekse misdaadondersoeke, insluitend sake ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) – ‘n belangrike rede vir hul versoek.
Stoffberg voer aan dat die bekamping van georganiseerde misdaad meer verg as bloot die inhegtenisneming van verdagtes. Volgens hom is deeglike ondersoeke, intelligensiewerk, behoorlike bewysinsameling en sterk dossiere noodsaaklik om sake suksesvol deur die strafregstelsel te voer.
Stoffberg het ook beklemtoon dat “Flippie”, soos hy bekend staan, ook ‘n belangrike rol in die opleiding en mentorskap van jonger speurders kan vervul.
“Ons wil hê ons speurders moet ontwikkel,” lui die brief. Hy sê jong ondersoekers moet geleer word hoe om sterk sake te bou en hoe belangrik professionaliteit, aanspreeklikheid, dissipline en deeglike ondersoekwerk is.
Die brief beklemtoon verder dat bendebedrywighede nie net die individue raak wat by bendes betrokke raak nie. Dit het volgens die brief ‘n uitwerking op ouers, kinders, skole, ondernemings, kerke en gemeenskapsorganisasies.
“Agter elke misdaadsyfer is ‘n familie,” sê inwoners, wat daarop wys dat geweld en dwelms die toekomsgeleenthede van jongmense kan beperk.
Die gemeenskap sê egter die beroep spruit nie uit ‘n gevoel van moedeloosheid nie. Inteendeel – hulle sê hulle weier om op Atlantis tou op te gooi en glo dat jongmense ‘n toekoms behoort te hê, wat nie deur bendes bepaal word nie.
Die inwoners erken ook die uitdagings waarvoor polisiebeamptes te staan kom en sê hulle waardeer die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat hul lewens in gevaar stel om gemeenskappe te beskerm.
Hulle vra terselfdertyd dat Atlantis se speurtak die nodige ondersteuning, leierskap en kundigheid ontvang om georganiseerde misdaad doeltreffend te ondersoek.
Die gemeenskap het die polisiekommissaris versoek om hul beroep te oorweeg en om saam met inwoners te werk om die veiligheid van Atlantis te verbeter.
Volgens Stoffberg is hulle bereid om met die polisie saam te werk en die polisie te ondersteun in die poging om sterker ondersoeke te verseker en verantwoordelike mense deur die regstelsel tot verantwoording te roep.
Die inwoners sê hulle hoop sterker samewerking tussen die polisie en die gemeenskap sal uiteindelik kan help om die verhaal van Atlantis te verander en jongmense nuwe geleenthede vir die toekoms te bied.
LEES OOK: Polisie neem verdagtes in hegtenis in afsonderlike bendeverwante voorvalle



